Vrystaat Landbou dra by tot lugspuit van sprinkane in Noord-Kaap

‘n Skenking van R50 000 is deur Vrystaat Landbou goedgekeur om aan die Agri SA Disaster Relief Foundation oor te betaal. “Dit is met groot dank en waardering aan ons buur provinsie vir hulle harde werk om die sprinkane te vernietig voordat hulle kans kan kry om na die Vrystaat toe oor te vlieg” sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou.

Agri SA het ’n oproep vir befondsing uitgestuur vir die dringende lugspuit van sprinkane in die Noord-Kaap, waar sprinkaanbeamptes op die grond oorweldig is deur massiewe swerms wat uitbroei.

Na ’n dringende versoek deur georganiseerde landbou vir lugspuit ondersteuning, was die regering nie gerat om ’n noodplan vinnig uit te voer nie en moes ‘n tenderproses eers begin. “Ons kon noodgedwonge nie staan en wag vir die staat nie” sê Wilken “en het die Dagbestuur van VL goedkeuring gegee om R50 000 uit ons rampfonds by te dra om die onmiddellike krisis te vermy.”

Vrystaat Landbou bedank al sy ondersteuners wie bygedra het tot ons rampfonds wat dié noodsaaklike aksie moontlik gemaak het.

“Tot die eerste ryp middel April voorkom, sal sprinkane nog kan uitbroei met die huidige gunstige weerstoestande” waarsku Wilken, “so die krisis is nog ver van verby.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou dra by tot lugspuit van sprinkane in Noord-Kaap

Category: Algemeen