Heilbron-boere versoek beter polisiëring infrastruktuur om veediefstal aan te spreek

Boere in die Heilbron en omliggende gebiede meen hulle is totaal uitgelewer aan veediefstal.

Dié inligting het aan die lig gekom tydens ʼn vergadering op 24 Maart 2022 in Heilbron waar Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) met boere in die Heilbron en omliggende gebiede vergader het.

Volgens Isabel Kruger, voorsitter van die RPO se Veediefstal Voorkomings Forum in die Vrystaat, is die polisie op alle vlakke al vir maande versoek om misdaadvoorkomings-aksies in die gebied van stapel te stuur, wat volgens die boere van die area in ’n mindere mate realiseer. Dit blyk dat ’n gebrek aan veral voertuie by die veediefstal-eenheid in Heilbron ʼn groot bron van kommer is en bly en dat dit die ondersoek van sake nadelig beïnvloed.

“Verskeie klagtes hieroor op die hoogste vlak, toon geen daadwerklike vordering in die verband nie.” sê Kruger.

Tommie Esterhuyse, ʼn boer van Heilbron wat self onlangs ʼn slagoffer van veediefstal was, sê dat sekere boere glad nie meer veediefstalsake by die polisie aanmeld nie. Esterhuyse meen daar is ʼn totale gebrek aan vertroue in die polisie se vermoëns. “Boere is op die vlak waar hul optrede in die bekamping van veediefstal kan aanleiding gee tot groot verleentheid van die polisie.

Andre Kleynhans, ʼn boer in die Moedersdeel-area van Heilbron wat ook self onder veediefstal deurgeloop het, sê dat die polisie baie traag is met hul optrede, reaksie en ondersoek om veediefstal aan te spreek asook dat sekere polisiebeamptes die pad voorberei vir kriminele om in die area te opereer.

John Keogh, voorsitter van die Heilbron Plaaswag, meld dat die polisie in baie gevalle nie eens op misdaadtonele opdaag nie en dat dit geensins help om die gebrek aan polisiëring verder na die distrik of provinsie te eskaleer nie.

VRYSTAAT

In die kalender jaar 2020 is ʼn totaal van 437 skape en beeste gesteel waarvan 217 teruggevind is. In 2021- kalender jaar is 984 skape en beeste gesteel, waarvan 306 teruggevind is. In die tydperk 1 Januarie tot 22 Maart 2022, is daar reeds 561 beeste en skape sover gesteel waarvan 120 teruggevind is. Volgens Kruger dui dit op ʼn groot toename in groot getalle vee wat op een slag vanaf plase gesteel word. ”Die insidente en getalle is by die Heilbron beheerkamer aangemeld en in 90% van die gevalle is dit boere wat die vee terugkry. Dit wil ook voorkom asof sekere veediewe onlangs op parool vrygelaat is, wat moontlik weer in die area betrokke kan wees.”

VL, die RPO en boerderygemeenskap van Heilbron versoek die polisie om hul infrastruktuur daadwerklik aan te pas en uit te brei, ʼn taakspan saam te stel om veediefstal te bekamp en te ondersoek en saam met die boerderygemeenskap te werk ten einde veediefstal effektief aan te spreek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Heilbron-boere versoek beter polisiëring infrastruktuur om veediefstal aan te spreek

Category: Veiligheid