Vrystaat Landbou Jongboer finaliste positief oor landbou in SA

ʼn Graan, vark- en skaapboer ding vanjaar mee om die titel as Vrystaat Landbou se Jongboer van die Jaar.

Le Roux Erasmus (29 jaar) van Hoopstad, Hennie Venter (29 jaar) van Theunissen en Jaco Burger (34 jaar) van Wepener is die finaliste in die kompetisie wat reeds vir die 26ste keer deur Vrystaat Landbou aangebied word.

Die finaliste is reeds op 21 en 22 Februarie deur VL se beoordeelaarspaneel, onder leiding van die sameroeper en Hoof van die Department van Landbou by SUT, prof. Pieter Fourie, op hul plase besoek om die wenner te bepaal. “Dit is wonderlik om te beleef hoe positief die deelnemers is oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika! Dit skep hoop.” meen Fourie.

Volgens prof Fourie is die afdelings waarop deelnemers beoordeel word, onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid. “Dit is werklik nie die grootte van die boerdery wat ’n wenner bepaal nie, maar wel die presisie, gebalanseerdheid en bestuursprestasie van die jongboer.”

Die wenner sal op 7 April tydens ʼn spog dinee in Bloemfontein aangekondig word.

Die wenner stap met ’n VL-kontantprys, asook ander opwindende pryse van verskeie borge, weg en sal outomaties aan die Toyota Agri SA nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem.

Douglas Osler van Fouriesburg is verlede jaar as wenner aangewys.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou Jongboer finaliste positief oor landbou in SA