Vinnige optrede deur Polisie lei tot herwinning van 50 skape in die Brandfort area

ʼn Veediefstal wat plaasgevind het op 19 Februarie 2022 in die Brandfort-area, was vinnig en effektief deur die SAPD se spesialis eenhede aangespreek.

Gedurende dié Sondagnag is 48 Dorper ooie en 2 ramme ter waarde van R155 000 gesteel. Die vinnige rapportering van die saak by die plaaslike polisie het daartoe gelei dat ʼn Veediefstal speurder, AO Grobbelaar en AO Oelofse van K9 (Honde eenheid) met sy spoorhond genaamd Ashton, die spore vir 30 kilometer gevolg het.

Hulle het 48 skape by die munisipale weikamp naby die dorpsarea in digte bosse versteek gevind waar ʼn tydelike kraal opgerig was. Alhoewel geen persone met die misdaad verbind kon word nie, is die skape deur die genoemde polisiebeamptes gevind en aan die wettige eienaar terug besorg.

Isabel Kruger van die Veediefstal Voorkomings Forum van die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) in die Vrystaat, bedank die Polisie vir hul vinnige optrede veral die spesialis eenhede wat gelei het tot die herwinning van die vee. “Dit is sulke vinnige reaksie en optrede van die polisie wat sal verseker dat boere se vertroue in die regstelsel sal verbeter.”

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, meld dat die Brandfortarea al vir ʼn geruime tyd ʼn hoë misdaad area in die Vrystaat is tov veediefstal insidente. In die kalender jaar 1 Januarie tot 31 Desember 2021, is meer as 1 080 stuks vee ter waarde van R6 miljoen in Brandfort gesteel. In 24 van die 53 sake is 10 tot 79 stuks vee op een slag vanaf plase gesteel. “Dit wys weereens dat groot getalle vee op een slag vanaf plase gesteel word, wat dit ʼn georganiseerde misdaad maak wat tot groot verliese onder kommersiële boere lei.”

Verskeie intervensies is al deur beide die RPO, Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee asook die plaaslike boerderygemeenskap aangevra om die polisie se hulp te bekom ten einde veediefstal effektief te bekamp, te voorkom en ook kriminele wat betrokke is te arresteer. Verskeie arrestasies deur die polisie het wel in mees onlangse sake gevolg, alhoewel dit wil voorkom asof van die veediewe nog nie gearresteer is nie, of dat daar goed georganiseerde groeperinge en of sindikate betrokke is by die uitvoering van dié tipe misdaad in die area.

Kruger versoek weereens die polisie om alle leidrade op te volg ten einde alle kriminele wat veediefstal in die Brandfort-area organiseer en uitvoer, aan die pen te laat ry.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vinnige optrede deur Polisie lei tot herwinning van 50 skape in die Brandfort area

Category: Veiligheid Tags :