Opkomende boere uitgelewer aan veediewe meen Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO)

Opkomende boere in die Phuthaditjhaba- area is totaal uitgelewer aan veediewe en ontvang min of geen ondersteuning van die polisie nie.

Dit is die slotsom waartoe Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) gekom het tydens ’n Imbizo by Phuthaditjhaba polisiestasie in Qwaqwa op 15 Februarie 2022.

Die Imbizo wat hoofsaaklik oor veediefstal gehandel het, is deur die LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, mnr William Bulwane, en LUR Nxangisa van Landbou bygewoon. Dr Jane Buys van VL en Nico Buys van die RPO Vrystaat was ook teenwoordig, tesame met polisie topstruktuur in die provinsie-, distrik- en stasievlak, asook tradisionele leiers en die plaaslike munisipaliteit.

Die “Anti Stock Theft Patrollers” wat die polisie in die area behulpsaam is ten einde veediefstal aan te spreek, het gekla dat hul nie oor genoegsame hulpmiddele beskik om hul werksaamhede uit te voer nie.

Nico Buys, voorsitter van die RPO in die Vrystaat, meld dat die opkomende boere baie ontevrede was met die dienslewering van die polisie en ook die veediefstal-eenheid. Klagtes het gehandel oor swak reaksietyd, swak bywoning van misdaadtonele, weinig tot geen terugvoer op sake, dat klomp misdadigers vanuit Lesotho opereer en hul nie gearresteer word nie.

Volgens Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, deel die kommersiële boere die frustrasies en ongelukkigheid met die opkomende en bestaansboere rakende veediefstal wat al vir jare in die Vrystaat eskaleer. “Die Qwaqwa-area ressorteer onder die grensarea en is ʼn hoë misdaad-area vir veediefstal. Die feit dat veediefstal eskaleer, dat daar geen strategieë en planne in plek is deur die polisie om dit effektief aan te spreek nie, kan daarop dui dat polisie betrokkenheid in die misdaad groter is as wat aanvanklik vermoed is.”

Buys voeg by dat VL en die RPO al vir jare skriftelike klagtes na die provinsiale en nasionale Polisie stuur oor die tekorte by veediefstal-eenhede in terme van mannekrag, voertuie en toerusting.

Bykomend daartoe is ook tekorte aan grenspatrollies en kapasiteit van die polisie om hul landelike veiligheidskoördineerders en stasies geleë langs die RSA/Lesothogrens, te bemagtig ten einde die weermag behulpsaam te wees om veediefstal oorgrens aan te spreek.

Volgens Nico Buys het LUR Bulwane onderneem om binne ’n maand 2 voertuie vir die patrolleerders beskikbaar te stel om met hul eweknieë in Lesotho te vergader, asook aandag te gee aan die kwessie van CCTV kameras in die grensarea wat alreeds betaal is maar nog nie geïnstalleer is nie, ten einde veediefstal aan te spreek.

VL en die RPO hoop dat die onderneming van die LUR nie net leë beloftes sal wees nie, maar dat dit goeie resultate vir die landbousektor in die area sal lewer.

Posted on by jonckie

Comments Off on Opkomende boere uitgelewer aan veediewe meen Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO)

Category: Veiligheid Tags :