Nuttige wenke vir veiligheid in die feesseisoen

Of jy nou Desember koers kies met vakansie of dalk met Jan Tuisbly se karretjie ry, is veiligheid tuis of op die pad altyd belangrik.

Sonder twyfel was dit ’n moeilike jaar en is dit verstaanbaar dat jy daarna uitsien om te ontspan. Maar ongelukkig kan jy nie op jou louere rus as dit oor die veiligheid van jou huis of ryding gaan nie, want veral tydens die feesseisoen is misdadigers geneig om meer aktief te wees, terwyl onverwant- woordelike padgedrag ook toeneem.

Wenke om seker te maak jou huis en eiendom bly veilig teen misdaad of ander skade:

• Selfs al het jy geen vakansieplanne vir Desember nie, is dit raadsaam om seker te maak jou huisalarm is in ’n goeie werkende toestand. Jou buurman wat met vakansie is, se onbewoonde huis kan dalk aanloklik vir misdadigers wees en mag dié kwaaddoeners ook besluit om ’n poging aan te wend om jou woonplek te besoek.
• Goeie bure sien om na mekaar. As jy met vakansie gaan, stel jou bure en buurtwag in kennis sodat hulle jou eiendom kan dophou tydens jou afwesigheid. Maak ook seker hulle weet hoe om jou in die hande te kry en waar jy vakansie hou.
• Goeie beligting op jou erf dien altyd as ’n goeie afskrikmiddel. Maak daarom nie net seker dat gloeilampe vir buiteligte werk nie, maar koppel dié ligte dalk ook aan tydskakelaars, dag/nag-skakelaars en beweging sensors.
• ’n Ander kopseer wat jy wil vermy is ’n warmwatersilinder wat bars terwyl jy iewers uitspan. Skakel dus die warmwatersilinder af voor jou vertrek.
• Waterlekke, hetsy bogronds of ondergronds, kan derduisende rande se skade aanrig aan jou eiendom en jou waterrekening saam met jou bloeddruk die hoogte in laat skiet. Dis raadsaam om jou hoof watertoevoer toe te draai by die stopkraan voor jy die pad aandurf.
• Verwyder bederfbare produkte uit die yskas en vrieskas voor jy met vakansie vertrek, want as daar ’n elektrisiteitsonderbreking vir watter rede ookal is, mag ’n onaangename stank jou dalk verras met jou terugkeer.

Wenke vir die pad:

• Maak seker dat jou voertuig padwaardig is en dat jou voertuig genoeg vloeistof het (water, remme en enjinolie). Gaan alle ligte (rem-, flikker- en nood-) na en kyk of jou voertuig se ruitveërs in ‘n werkende toestand is. Kyk ook na die loopvlakke en drukking van al die voertuig se bande (insluitend die noodwiel).
• Padwoede en ongeduld is van die gevaarlikste uitdagings wat motoriste in die gesig staar. Daarom moet jy genoeg slaap kry voor jy die lang pad aandurf, want uitputting kan jou geïrriteerd maak.
• Verminder stres agter die stuur deur vooruit jou roete te beplan. Weet waar die vulstasies, polisiestasies en hospitale op jou roete is.
• Dra veiligheidsgordels.
• As jy dalk in ’n ongeluk betrokke is, hou dadelik stil en stel eers vas of iemand beserings opgedoen het. Indien daar beserings opgedoen is, moenie die voertuie beweeg nie en skakel die nooddienste deur gebruik te maak van CrisisOnCall se noodnommer.

Oorgeneem: VirSeker /CrisisOnCall

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuttige wenke vir veiligheid in die feesseisoen

Category: Algemeen