Ekstra paraatheid nodig tydens die Feestyd!

Die Vrystaat is in rou nadat twee boere binne 24 uur in die provinsie vermoor is.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, het sy innige meegevoel met die naasbestaandes van Christian van Tonder (Lindley) en Johan Prinsloo (Koppies) betuig. Prinsloo se aanvaller is noodlottig deur die polisie gewond, terwyl daar blykbaar nog geen verdagtes vir Van Tonder aangekeer is nie. “Enige moord is een te veel!” sê Le Roux.

Met die feesseisoen op hande, doen Le Roux ʼn ernstige beroep op boere om uiters paraat te wees en seker te maak dat veiligheidsplanne in plek is. “Kriminele aktiwiteite vier ongelukkig hoogty hierdie tyd van die jaar en moet veral landbougemeenskappe baie paraat en oplettend wees vir enige verdagte persone of voertuie.”

Vrystaat Landbou herinner boere weer aan die volgende aspekte om veiligheid gedurende die feesseisoen te verbeter:

  • Skakel in by die veiligheidstrukture wat tussen die plaaslike SAPD, landbouers en ander rolspelers in u area geskep is. Woon gereeld maandelikse vergaderings by, raak betrokke by wit-/bloulig patrollies, inoefeninge 2 keer per jaar en kom gereeld in kontak met veiligheidskoördineerders van beide die SAPD en georganiseerde landbou in u area;
  • Skakel in by plaaswag-strukture in u area en maak seker dat u verhouding met u bure en werkers gesond is;
  • Bekom radio kommunikasie, wees ingeskakel by die plaaslike radionetwerk, verhoed dat u sonder kommunikasie sit wanneer selfoon-netwerke af is weens byvoorbeeld beurtkrag;
  • Toets gereeld radiokommunikasie met u veiligheidsnetwerk/koördineerder en bure;
  • Raak deel van “WhatsApp”-groepe wat pro-aktief inligting rakende verdagte voertuie/persone in u area deurgee – veral ook met kamera netwerke en monitering;
  • Doen gereelde en deurlopend inoefeninge op u eie gebeurlikheidsplan wat insluit die hantering van vuurwapens, tesame met u werkers, en waar moontlik verskaf aan hul handradios na-ure;
  • Skaf ʼn addisionele selfoon aan wat op ʼn strategiese plek binne huis geplaas kan word (altyd gelaai) om sodoende in staat te wees om hulp te ontbied indien u bestaande selfoon geroof word.
  • Vergewis uself van sekerheid-/noodseine op u slimfoon wat ook aan ʼn bestaande veiligheidsnetwerk gekoppel kan word;
  • Gee voortdurend inligting aan veiligheidskoördineerders van landbou/polisie deur wat van uiterste belang is om pro-aktief op te tree;
  • Kontakbesonderhede/noodnommers van bure, polisie en veiligheidskoördineerders moet altyd byderhand wees of op selfone gelaai wees;
  • Poog om ʼn UPS te installeer veral tov moontlike beurtkrag in u area tydens die opkomende feesseisoen;
  • Moenie sommer addisionele werkers inbring of aanstel vir ʼn seisoen alvorens u nie seker gemaak het welke hul oor ʼn kriminele rekord al dan nie, beskik nie;
  • Wees asb paraat en oplettend en rapporteer enige brokkie inligting aan die LV koördineerder van die SAPD in u area veral tov moontlike observasiepunte van kriminele, asook die veiligheidsverteenwoordiger van die georganiseerde landbou struktuur in u area.

Le Roux spreek sy dank uit teenoor die polisie wat, ongeag moeilike werksomstandighede, steeds poog om landbougemeenskappe te ondersteun en by te staan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Ekstra paraatheid nodig tydens die Feestyd!

Category: Veiligheid