Afsterwe van leier jongboer laat groot leemte vir landbou

Vrystaat Landbou (VL) het met skok kennis geneem en betreur die afsterwe van Jacobus Stroebel, VL se gewese vise-president, op 27 Desember 2021. Jacobus, sy dogtertjie Marelize en sy moeder, Miempie het in ‘n motorbotsing naby Bloemfontein op die N6 gesterf.

Francois Wilken, president van VL, sê dat Jacobus diep spore in die organisasie getrap het sedert hy aanvanklik in 2013 as regsadviseur by VL begin werk het. Hy het sy passie vir boerdery in 2017 gaan uitleef toe hy voltyds op die familieplaas in die Rouxville-distrik gaan boer het en het later deel van VL se bestuur geword. Hy is in September 2021 as vise-president van VL verkies.

Wilken noem daar ondertussen ‘n geleentheid om in die buiteland te gaan boer oor Jacobus se pad gekom het en het hy as vise-president bedank gedurende Desember 2021 aangesien die gesin in Januarie 2022 na Kanada sou verhuis.

“Jacobus sal met deernis onthou word vir sy skerpsinnige humorsin, beginselvaste besluitnemings en absolute toewyding aan die landbousektor en sy familie. Sy entoesiasme en die ywer waarmee hy ‘n taak aangepak het, was ook ‘n uitstaande kenmerk.

Nieteenstaande die feit dat hy nog betreklik jonk was, het hy ‘n leidende rol in die bestuur van VL se kantoor gespeel waar sy nalatenskap nog lank sal bly voortbestaan.”

VL betuig sy innige simpatie aan Jacobus se eggenote, Charne, sy seuntjie Christoff enbroer, Hendrik, asook ander familie

Posted on by jonckie

Comments Off on Afsterwe van leier jongboer laat groot leemte vir landbou

Category: Veiligheid, Voertuig