Vrystaat Landbou bevraagteken onbekostigbare ESKOM-tariefpryse by openbare verhoor

Vrystaat Landbou (VL) gaan die wyse waarop ESKOM toegelaat word om onbekostigbare tariewe vas te stel ernstig bevraagteken tydens ‘n openbare verhoor op Vrydag 5 November met NERSA, die nasionale Energiereguleerder.

Die multi-jaar-prysbepaling metodologie sal op 31 Maart 2022 eindig, wat impliseer dat ‘n nuwe of hersiene metodologie vereis word. NERSA het in September 2021 ‘n konsultasiedokument gepubliseer om ‘n nuwe prysbepalingsmetodologie te bepaal, waarby VL betrokke sal wees.

Landbou gebruik slegs 2,8% van die totale energiemengsel wat deur ESKOM geproduseer word, maar was die een sektor wie se energieverbruik die meeste verhoog het! Van 2012 tot 2021 het landbou-energieverbruik met 6,4% verhoog, residensiële gebruikers met 4,6% en kommersiële gebruikers met 4,1%.

Dit terwyl Spoor-, Nywerheids- en Mynbougebruik met onderskeidelik -40.9%, -30.3% en -17.2% afgeneem het. Die impak van kabeldiefstal kan duidelik op die spoor-energieverbruik gesien word! Spoor bly egter ‘n baie klein gebruiker in die totale energiemengsel wat slegs 1% gebruik. Die grootste verbruiker van elektrisiteit (43%) is munisipale verspreiders, en hier is die kultuur van wanbetaling en swak bestuur besig om finansiering van ESKOM te weerhou wat massiewe skuld van meer as R400 biljoen opgehark het!

VL se kommersiële bestuurder, dr Jack Armour, wat by die verhoor aanbied, sê “die massiewe olifant in die kamer is nie net die NERSA-prysstruktuur wat ESKOM onbeheerde besteding moontlik gemaak het nie, maar ook die massiewe skuldlas wat ESKOM toegelaat is om op te hark en wat gediens moet word!”

Die R131biljoen wat die naweek deur Eerstewêreldlande aan Suid-Afrika by COP’21 belowe is om SA se energiemengsel te herstruktureer, sal skaars ’n kwart van ESKOM se massiewe skuld dek.

Verder het SA deur ESKOM amptelik die hoogste besoedelende land in die wêreld geword in terme van koolstofmonoksied vrystellings! Net om ESKOM se vuil kragopwekking skoon te maak, sal
meer as R30 miljard kos.

“Die gemiddelde boerehuishouding wat krag direk van ESKOM kry, betaal ‘n diens- en netwerkkapasiteitsheffing van meer as R2500 per maand vir ‘n klein transformator, selfs voordat hy/sy enige krag begin gebruik het. Daarom sal VL tydens die verhoor sterk argumenteer om nie die landbousektor wat reeds ‘n verdeelde tarief betaal, hoog te hef nie.” sê Armour.

VL is ook heeltemal gekant teen die hofsaak wat SALGA (SA Plaaslike Owerheidsvereniging) teen private energieverspreiders van stapel gestuur het, wat die Damplaas Kragbron- Verspreidingsnetwerk insluit. Dié netwerk behoort aan die boeregemeenskap van Petrus Steyn in die Vrystaat en word privaat befonds, onderhou en funksioneer baie doeltreffend.

“Die Munisipaliteite wil alle verspreiding en kleinhandel van ESKOM krag muur-tot-muur binne hul grense oorneem en nie net woongebiede soos in die verlede nie.” meen Armour.

Vrystaat Landbou sal teen sulke sosialistiese stelsels van sentrale beheer staan en veg vir die vryemark ekonomiese beginsels wat ekonomieë laat groei en deursigtigheid en doeltreffendheid bevorder.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou bevraagteken onbekostigbare ESKOM-tariefpryse by openbare verhoor

Category: Algemeen Tags :