Geen rede om Vervoermaand in die Vrystaat te vier nie

Terwyl die Vrystaatse provinsiale regering gedurende Oktober Vervoermaand “gevier” het, is Vrystaatse boere gedwing om nood padherstelwerk te doen om die lewensgevaarlike toestand van paaie in die provinsie aan te spreek in afwagting op verhoogde verkeer oor die feesseisoen.

Volgens dr Jack Armour, Vrystaat Landbou se kommersiële bestuurder, is boere woedend oor die gebrek aan vordering wat gemaak is met die instandhouding van landelike paaie.

“Voorbereidings vir die nuwe plantseisoen het begin en vereis die vervoer van verskeie landbou-insette, en gestroopte graan na silo’s. Gewoonlik is die natuur boere se grootste bedryfsuitdaging, maar tans word die padinfrastruktuur die grootste struikelblok vir die Vrystaatse landbousektor se vermoë om voedsel vir die land te produseer.

Die verwagte somerreën sal waarskynlik die swak toestand van landelike paaie nog verder versleg.”

Volgens Armour is die bestuur van die departement van polisie, paaie en vervoer se begroting en hul aanstelling van onbekwame kontrakteurs die rede vir die krisis. “Begrotings word eers maande ná aanvanklike goedkeuring bestee en dan word kontrakteurs met geen bedryfskapitaal of kapasiteit aangestel om die werk deur die provinsie se kontrakteurontwikkelingsprogram (KOP) en Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) doen.”

Armour meld dat daar een voorval was waar ‘n KOP-kontrakteur besig was om die pad tussen Bultfontein en Wesselsbron te merk sonder die behoorlike naamborde, waarskuwingsvlae of weerkaatsende veiligheidsbaadjies. ‘n Motor het in hulle vasgery en twee van die kontrakteur se werkers het gesterf en nog een werker is ernstig beseer.

Die departement se gesentraliseerde geel vloot kapasiteit bestaan byna nie meer nie weens gebrek aan instandhouding en swak bestuur. Die staat het ook ‘n tekort aan gekwalifiseerde skraperoperateurs. Boonop word “pik en graaf”-werkers, waarvoor daar begroot is, nie aangestel om stukkende leivore en verstopte afvoerpype te herstel en skoon te maak nie.

VL het hierdie en ander sistemiese probleme herhaaldelik binne die provinsiale departement op alle vlakke geopper, tot by die Minister van Vervoer, sonder reaksie. Francois Wilken, president van VL, meen die provinsie se KOP- en EPWP-programme het nie net misluk nie, maar staan uit as die kern oorsaak van die padinfrastruktuur-verval in die provinsie in die naam van “werkskepping”.

Wilken sê verder dat ’n swak en vervalle vervoerinfrastruktuur in die Vrystaat die hele landelike gemeenskap drasties raak en ontneem ook mense van kritieke dienste. “Dringende ingryping word vereis. Gegewe die haglike situasie van die paaie, het VL ‘n beroep op die departement gedoen om hierdie skemas te skrap en om terug te keer na ‘n vryemark deursigtige en verantwoordbare tenderstelsel wat voorsiening sal maak vir die indiensneming van bekwame en gekwalifiseerde siviele ingenieursfirmas om die werk behoorlik te doen. Die regerings se taak is nié om meer mense in diens te neem nie, maar om die bemagtigende omgewing te skep waarin landelike ekonomieë kan floreer.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Geen rede om Vervoermaand in die Vrystaat te vier nie

Category: Algemeen