Georganiseerde landbou moet belange van lede voorop stel, sê Vrystaat Landbou

“Georganiseerde landbou se rol is nie om die staat of regerende party se politieke agenda deur te voer nie, maar om die belange van hul lede – die boere- en landbougemeenskap, voorop te stel. ”

Dit is volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), belangrik om ’n veilige en volhoubare landbou-omgewing daar te stel, en kan dit slegs gebeur indien georganiseerde landbou organisasies begryp dat hul rol insluit om regeringsbeleid te beïnvloed en indien nodig teen te staan.”

Hierdie rol is weereens dié week tydens ’n VL Uitvoerende bestuur vergadering in Bloemfontein bevestig.

Ten einde volhoubaar te kan wees, sal Vrystaat Landbou voortdurend poog om landbou se kommersiële rol in Suid-Afrika te versterk. “Landbou is verantwoordelik vir ‘n aansienlike bydrae tot Suid-Afrika se nasionale kosmandjie, indiensneming en BBP en moet daarvolgens hanteer en erken word.” sê Wilken.

“Daarom sal ons (VL) geensins beleid ondersteun wat eiendomsreg en ekonomiese vryheid aan bande lê nie, aangesien dit nie net tot werksverliese lei nie maar ook die land se ekonomie ‘gyselaar’ hou en buitelandse beleggers afskrik.”

Die organisasie het ook bevestig dat sterk landboustrukture gevestig moet word ten einde die voortbestaan van landbou te verseker. “Goeie samewerking moet met gemeenskappe buite die politiek gevestig word. Gemeenskappe het nou die geleentheid om beheer van hul omgewings te neem, aangesien die regering onbeholpe en afwesig is. Ons kan nie meer
alleen funksioneer nie.” sê Wilken.

“Ons werk saam met die regering as ons kan, sonder hulle as dit moet maar altyd met die doel om ons lede en die landbougemeenskap se belange te bevorder.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Georganiseerde landbou moet belange van lede voorop stel, sê Vrystaat Landbou

Category: Algemeen Tags :