Weerstand teen korrupsie, swak dienslewering en onteiening is nodig

“Bied weerstand teen korrupsie, swak dienslewering en dreigende onteiening van bates deur beheer te neem van jou onmiddellike omgewing en omstandighede”. Dit was die boodskap van Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, aan landbouers tydens die organisasie se virtuele kongres in Bloemfontein.

Die Kwazulu-Natal onluste, verbrokkelende infrastruktuur, onveilige omgewings en verslegtende sosio-ekonomiere omstandighede dui daarop dat die situasie in Suid-Afrika versleg. “Landbouers moet besef dat hierdie probleme nie langer deur die staat opgelos kan word nie. Die regering is onbeholpe en planloos en is duidelik meer geïnteresseerd in wat hulle vir hulself kan toeëien ”, meen Wilken.

Wilken het benadruk dat die landbougemeenskap die geleenthede in die huidige omgewing moet raaksien. “Die onttrekking van die staat bied vir gemeenskappe die geleentheid om prakties beheer van hul omgewings te neem”.

Oor die ekonomiese omstandighede het Wilken gemeld dat Suid-Afrika anders sal moet dink oor die ekonomie. Hy is van mening dat daar bloot net nie meer ruimte vir rasbehepte sosiale eksperimente soos BEE, regstellende aksie en grondonteiening is nie. “Hierdie beleide lei net tot korrupsie, werksverliese en ondermyn die sosiale samehang. Die land se ekonomie word gyselaar gehou deur die herverdelingsbeheptheid en is dit die werkloses wat die prys daarvoor betaal.”

Wilken het benadruk dat die tyd aangebreek het vir die publiek om op te staan, hande te vat en op te bou. “Moenie op iemand anders wag om dinge te verander nie. Dit is tyd dat ons (landbou) opstaan en nie meer rond geskop en gedreig word deur idiologieë en populistiese uitsprake nie.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Weerstand teen korrupsie, swak dienslewering en onteiening is nodig

Category: Algemeen Tags :