Veediefstal: ekonomiese sabotasie van die Landbou sektor

Die tekortkominge wat tans by Veediefstal Eenhede (VDE) in die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) deur boerderygemeenskappe in die Vrystaat bespeur word, is bydraend tot wat bykans as ekonomiese sabotasie van die landbousektor beskou kan word. Dit is die mening van Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO).

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, is bekommerd dat veediefstal op die oog af nie as ʼn prioriteit deur die polisie geag word nie. “Vir boere lei hierdie situasie tot ekonomiese ondergang wat die landbousektor ernstig ondermyn. Dit is om nie eens van die impak wat dit op opkomende en bestaansboere het, te praat nie”, sê Le Roux.

Volgens le Roux en Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstal Voorkomings Forum (VVF) in die Vrystaat, neem die astronomiese tekorte aan hulpbronne toe, met geen daadwerklike intervensie vanaf polisie topstruktuur nie. “Weens die tekorte, word misdaadtonele nie effektief ondersoek nie en speurders daag soms dae na ʼn saak gerapporteer is eers op. Dit dra dan daartoe by dat baie van hierdie veediefstal-insidente nie aangemeld word nie.”

Uit sake wat wel gerapporteer is, is daar boerderygemeenskappe wat verliese van tot R10 miljoen per jaar rapporteer. Hoë geteisterde gebiede van die Vrystaat insluitend Brandfort, Ladybrand, Heilbron, en Fouriesburg – ondervind tans groot druk weens toenames in veediefstal. Veral grensdorpe geleë langs die RSA/Lesothogrens, gaan gebuk onder ʼn groot toename in die soort eiendoms verwante misdaad, sê Dr Jane Buys, Veiligheids Risiko Analis van VL.

“Veediefstal is ʼn georganiseerde misdaad wat toenemend deur misdaadsindikate bedryf word”, meen Dr Buys. “Om hierdie sindikate te keer, word die betrokkenheid van ander rolspelers in die SAPD, soos die Valke, Georganiseerde Misdaad Eenheid en Misdaad Intelligensie, benodig.”

Boere poog om sover moontlik hul eiendom en veral vee te beskerm. VL en die RPO meen dat die Polisie hul regsverpligting moet nakom ten einde die nodige mannekrag, voertuie en toerusting beskikbaar te stel om die voortbestaan van die landbousektor in die Vrystaat te verseker. “Die intervensie van die regering en die Minister van Polisie het kritiek geword om die tekorte aan te spreek”, sê Buys.

Posted on by jonckie

Comments Off on Veediefstal: ekonomiese sabotasie van die Landbou sektor

Category: Veiligheid Tags :