Sentiment teen onteiening tydens openbare verhore

In ‘n onverwagse wending blyk dit dat die steun vir die onteieningswetsontwerp in die Vrystaat aansienlik verminder het. Openbare verhore is gedurende 26-29 Augustus regoor die Vrystaat gehou, om gemeenskappe die geleentheid te bied om aan die wetgewing oor die onteieningswetsontwerp deel te neem. Die resultaat van hierdie vergaderings het voorstanders van die onteieningswetsontwerp verras.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) president, Francois Wilken, het die organisasie se verteenwoordigers hul formele besware teen die voorgestelde onteieningswetsontwerp tydens hierdie openbare verhore gemaak. “Ons het ‘n beroep op almal gedoen wat glo in vryheid, die vrye mark en die beskerming en uitbreiding van individuele privaat eiendomsreg, om saam te staan om die wetsontwerp in sy huidige vorm teë te staan,” sê Wilken met verwysing na die VL-veldtogwebwerf https://vrystaatlandbou.co.za/stop-onteiening/

Die verhore is in Botshabelo, Welkom, Bethlehem en Frankfort gehou. Vrystaat Landbou se plaaslike verteenwoordigers het hierdie verhore bygewoon en insette gelewer namens lede en ondersteuners. By al hierdie verhore het die meerderheid, insluitend tradisionele leiers, die wetsontwerp verwerp op grond van die opposisie teen onteiening sonder vergoeding.

Tydens Frankfort-verhoor het Tommie Esterhuyse, vise-president van die VL, aangevoer dat die wetsontwerp ekonomiese selfmoord sal wees wat huidige en toekomstige grondeienaars van hul eiendomsreg sal ontneem. Verdere punte is na vore gebring wat die wye definisies van “openbare belang” en “onteiening” insluit. VL-verteenwoordigers het beklemtoon dat die  onteieningswetsontwerp fokus op alle eiendom (nie net grond nie) wat sonder vergoeding geneem kan word.

Toegang tot howe is ook beklemtoon as ‘n ononderhandelbare saak. “Dit wil voorkom asof die publiek toenemend bewus is van die gevaar daarin om die staat ‘n blanko tjek vir onteiening te gee.

Die feit is dat hierdie wetsontwerp die regering en sy burokrate sal toelaat om te boelie, intimideer en bates van wetsgehoorsame burgers te steel. In hierdie verband het die geskiedenis ons geleer dat dit armes en gemarginaliseerdes is wat maklike teikens vir korrupte regerings is”, het Wilken gesê.

Posted on by jonckie

Comments Off on Sentiment teen onteiening tydens openbare verhore

Category: Voertuig