Golfdag-fondse gaan boerderygemeenskappe veiliger maak d.m.v. opleiding

Die beveiliging van boerderygemeenskappe in die Vrystaat was die oogmerk tydens Agriculture.golf se “Beskerm ons boere” golfdag.

Opulentia Finansiële Dienste, Enslins ouditeure, Velox Carriers en Vrystaat Landbou (VL) het as vennote hande gevat om deur middel van die nie-winsgewende maatskappy, Agriculture.golf, ʼn gholfdag op 2 September ten bate van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidsfonds aan te bied.

Die geleentheid, wat by die Bloemfontein Gholfklub plaasgevind het, se uitsluitlike doel was om fondse in te samel wat die veiligheid van boerderygemeenskappe in die Vrystaat kan bevorder.

Volgens Ignatius van Niekerk, hoofdirekteur van Opulentia Finansiële Dienste, het 40 spanne aan die golfdag deelgeneem. Die bedrag wat deur die gholfdag ingesamel is, beloop R175 000. “Wat dié gholfdag nog meer merkwaardig maak, is dat dit onder vlak 3 van die Covid-19 regulasies plaasgevind het en dus die betrokkenheid van boerderygemeenskappe, deelnemers en borge beperk het.” sê van Niekerk.

Francois Wilken, president van VL, het sy dank teenoor alle deelnemers en borge uitgespreek vir hul bydrae om die dag ʼn sukses te maak. “Landbouprodusente en hul werknemers speel ’n enorme rol in die welvaart van die land en ook die volhoubaarheid van plaaslike ekonomieë. Ten einde voedselsekerheid te verseker, moet daar na die welstand en veiligheid van die Vrystaat se landbouprodusente en -gemeenskappe omgesien word.” sê Wilken.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het bygevoeg dat die fondse uit die golfdag aangewend gaan word om veiligheidstrukture op grondvlak te bemagtig d.m.v. opleiding om misdade en veiligheid voorkomend aan te spreek. “Met die opleiding word hande gevat met LGV, ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy, wat instrukteurs met gestandaardiseerde en geakkrediteerde opleidingskursusse en materiaal oplei.

Die opleiding sal dan in alle boerderygemeenskappe aangebied word, wat ook reaksiegroep-opleiding behels.” sê le Roux.

Foto: Marinus Hoek van Enslins Ouditeure Bloemfontein oorhandig die tjek aan VLpresident, Francois Wilken

Posted on by jonckie

Comments Off on Golfdag-fondse gaan boerderygemeenskappe veiliger maak d.m.v. opleiding

Category: Veiligheid Tags :