Vuurwapenwysigingswetsontwerp is ‘n aanval op die reg op lewe -Vrystaat Landbou

“Selfverdediging word deur alle regstelsels erken. Waar ‘n keuse tussen twee of meer mense se lewens gemaak moet word, kry die lewe van die onskuldiges voorkeur bo die lewe van die aggressor.

Dit strook met artikel 33 (1). Om die onskuldige persoon die reg om uit selfverdediging op te tree te ontken, sou daardie persoon se reg op sy of haar lewe ontken.”

Hierdie uitspraak van die konstitusionele hof, deur die voormalige hoofregter Chaskalson, vorm deel van Vrystaat Landbou (VL) se omvattende kommentaar op die voorgestelde wysigingswetsontwerp op vuurwapens, wat alreeds ingedien is.

  •  Plaas in die praktyk ‘n beperking op die aansoek om vuurwapenlisensies vir selfverdediging.
  •  Verminder die aantal vuurwapens en ammunisie wat ‘n vuurwapeneienaar mag hê.
  •  Kriminaliseer die besit en gebruik van herlaai -toerusting.
  •  Verhoog die moeilikheidsgraad om ‘n vuurwapenlisensie te verkry terwyl die ontoereikendheid en tekortkominge van die bestaande proses nie aangespreek word nie.

Dit is die mening van Vrystaat Landbou dat hierdie wetsontwerp ‘n ongegronde poging is om die moeilikheidsgraad om ‘n wettige vuurwapen te besit, aansienlik te verhoog en terselfdertyd ‘n ontwapeningsagenda te dryf.

Die gebruik van onwettige vuurwapens deur misdadigers sal nie deur hierdie wetsontwerp opgelos word nie en die klaarblyklike narratief dat wettige vuurwapens die olifant in die kamer is, is ‘n totale wanvoorstelling. “As dit afgekondig word, sal die wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer ‘n veiliger omgewing vir geweldsmisdadigers verseker om in op te tree.

Daarom kan hierdie wetsontwerp nie gesien word as iets anders as ‘n aanval op die reg op lewe van wetsgehoorsame burgers nie”, sê VL-president, Francois Wilken.

Enige persoon wat steeds Vrystaat Landbou se veldtog teen die voorgestelde wysigingswetsontwerp op vuurwapenbeheer wil ondersteun, kan die organisasie se webwerf besoek by https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-right-to-self-defence

Posted on by jonckie

Comments Off on Vuurwapenwysigingswetsontwerp is ‘n aanval op die reg op lewe -Vrystaat Landbou