Vrystaat Landbou veroordeel moord van Harrismith boer en gesin

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê die organisasie veroordeel ten sterkste die moorde wat op Saterdag, 7 Augustus 2021 op die plaas ‘Toekoms’ in die Harrismith area plaasgevind het. Mgwenika Twala, ’n opkomende boer, asook sy vrou,Selina Maloka, en drie kinders van onderskeidelik 6, 16, en 19 is brutaal vermoor.

Hulle is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek. Die gesin is een van verskeie wat op ʼn plaas woon wat deur die regering in ʼn grondeis aan begunstigdes toegeken is. Die motief vir die
moorde is onbekend.

“Die voortbestaan van ʼn veilige en volhoubare landbousektor is van kardinale belang vir voedselsekerheid en sulke brutale moorde waar vrouens en kinders ook slagoffers van ernstige geweldsmisdade word, word ten strengste veroordeel en moet met die grootste erns deur die kriminele regstelsel beveg word.” sê Wilken.

Tommie Esterhuyse, vise-president van Vrystaat Landbou, het die polisie bedank vir hul vinnige optrede deurdat twee persone alreeds vir die moorde gearresteer is. “Die landbousektor kan nie sulke barbaarse optrede teen enige produsent, hetsy dit kommersiële, opkomende of bestaansboere is, hul gesinne en bewoners op plase toelaat nie.” sê Esterhuyse.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, versoek alle produsente, insluitend opkomende boere, bestaansboere asook nedersettings waar mense woonagtig is, om hulself te organiseer en deel te vorm van die Landelike Beveiliging Strategie (LBS) en waar moontlik by strukture soos Gemeenskap Polisiëring Forums in te skakel. Dit isbelangrik dat sulke gemeenskappe ook betrokke raak om die misdaadgolf wat landelike gemeenskappe teiken, effektief saam met die polisie aan te spreek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou veroordeel moord van Harrismith boer en gesin

Category: Veiligheid Tags :