Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) verwelkom arrestasies deur die Valke

Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) verwelkom die arrestasies deur die Valke wat op 14 Julie 2021 uitgevoer is, waar vyf polisiebeamptes en twee veespekulante in Bloemfontein en Ladybrand gearresteer is.

Dié arrestasies hou verband met ’n versoek van Herkie Viljoen, Voorsitter Bethlehem Gebiedskantoor, aan die Minister van Polisie in Oktober 2020 na die protesoptog in Senekal oor die moord op Brendin Horner, vir die totstandkoming van ’n taakspan om beweringe van polisie korrupsie en veediefstal te ondersoek.

Tydens die Minister se besoek aan die Bethlehem area is ’n dokument wat die beweringe vervat, aan die Minister oorhandig. Die verdagtes sal op 15 Julie 2021 in die hof op Ladybrand verskyn op klagtes van veediefstal, “defeating the ends of justice” en meineed. Die veespekulante sal ook tereg staan op die besit van ongelisensieërde vuurwapens.

Volgens Francois Wilken, President van VL, is die arrestasies die uitvloeisel van:

1. Inligting wat bekom is vanaf boerderygemeenskappe (Bethlehem Beheerkamer) wat vervat was in ’n dokument (“paper trail”) wat aan die Minister van Polisie oorhandig is. Hierdie inligting is ook tydens ’n vergadering van die RPO se Vrystaatse Veediefstalforum in samewerking met VL en die boeregemeenskap direk aan die Valke oorhandig asook ander SAPD afdelings wat betrokke is by die ondersoeke.
2. Bewys dat beweringe van polisiekorrupsie ’n langer ondersoekproses behels wat deur spesialiste soos die Valke ondersoek word en waar bewyslas vir suksesvolle vervolging in die howe bekom moet word.
3. Boere moet steeds voortgaan om misdaad insidente by die Polisie aan te meld vir ondersoek, ten einde te verseker dat sake verbind kan word.
4. Enige inligting rakende beweringe van polisiekorrupsie moet ook met spesialis ondersoekers geskakel word.

Isabel Kruger, voorsitter van die RPO se Vrystaatse Veediefstalforum, vertrou dat nog arrestasies en verbintenisse van veediefstalsake deur die taakspan kan volg.

Tydens onlangse Veediefstal Inligting Sentrum (VIS) vergaderings het boere in die beheergebied van Bethlehem dit duidelik gemaak dat hul nie meer veediefstalsake aanmeld nie, omrede weinig arrestasies daaruit voortvloei. Die RPO en VL stel hulself beskikbaar om die SAPD by te staan in borg oppponering wanneer die verdagtes in die hof verskyn.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) verwelkom arrestasies deur die Valke

Category: Veiligheid