Suid-Vrystaat brand is grootste in provinsie se geskiedenis

Op 12-13 Julie 2021 is 104 235 ha landbougrond tot op die grond afgebrand. Volgens dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is hierdie brande die grootste enkele brandgebeurtenis wat in die Vrystaat-provinsie aangeteken is.

“Amptelike syfers wat op 22 Julie deur die Vrystaat Sambreel Brandbeskermings Vereniging (FSUFPA) bekend gemaak is, dui aan dat weiveld, vee en wildplase verwoes is.”, sê Armour.

Die verslag dui aan dat 396 plaaseenhede in totaal gebrand het, waarvan 35 plase 100% gebrand het, 134 plase het 90% gebrand en 216 plase het meer as 50% van hul oppervlakte verbrand.
Brandskade (ha en %) van die brand op 12-13 Julie wat naby Petrusburg in die Suid-Vrystaat ontstaan het

Volgens die FSUFPA-verslag, het “die brand omstreeks 12 Julie om 11:00 ongeveer 22 km suid van Petrusburg ontstaan. Die vuur het in die suidelike rigting gebrand en daarna in ‘n oostelike rigting beweeg. Die brand het meer as 27 uur gewoed en 100km deurkruis. Die toestande was ideaal vir uiters gevaarlike wegholveldbrande weens koue droë wind van 70 km/h , waarteen boere van die Brandbeskermingsverenigings magteloos was ”.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) word die koste van verlies op weiding na raming R345,5 miljoen geskat. Boonop beloop die vroeë skatting van verlies aan vee en infrastruktuur R33,5 miljoen.

VL doen ‘n beroep op die publiek vir ondersteuning vir die boeregemeenskap in die verwoeste gebiede. Enigiemand wat die betrokke boere wil help, kan dit doen deur VL se webwerf te besoek by https://vrystaatlandbou.co.za/fire-disaster-fund/

Alternatiewelik kan finansiële bydraes gemaak word aan Vrystaat Landbou, ABSA, rekening nr: 470940670, tak: 632005 met verwysing “BRANDE” + selnommer

Posted on by jonckie

Comments Off on Suid-Vrystaat brand is grootste in provinsie se geskiedenis

Category: Algemeen