Onluste wys waarom die wapenwet gestop moet word, sê Vrystaat Landbou

Daar word weereens ’n beroep op die publiek gedoen om kommentaar op die Wysingswet op Vuurwapenbeheer te lewer, sê Tommie Esterhuyse, vise-president van Vrystaat Landbou (VL), nadat dié organisasie se skriftelike kommentaar op 21 Julie 2021 per e-pos ingedien is.

Die onlangse gebeure in veral Kwazulu-Natal asook Gauteng, tesame met President Ramaphosa se erkenning op nasionale televisie op 16 Julie 2021 dat die staat onvoorbereid was om die grootskaalse plundering en beskadiging van eiendom aan te spreek, het weereens die klem op die reg tot selfverdediging geplaas.

In hierdie opsig was dit in baie gevalle burgerlikes uit alle kulture wat telkens die laaste versperring tussen grootskaalse plundering en vernietiging in hul gemeenskappe was.

Dit is aanduidend van die belangrikheid van die publiek se vermoë om in selfverdediging te kan optree en in daardie opsig maak die voorgestelde wysiging wat vuurwapenlisensiëring vir selfverdediging doeleindes wil verwyder, hoegenaamd nie sin nie. “Dit is maar een van die talle voorgestelde wysigings wat uit voeling is met die realiteite van die hedendaagse misdaadsituasie in Suid-Afrika en vervat is in die kommentaar wat Vrystaat Landbou ten opsigte van die voorgestelde wysigingswet ingedien het.” sê Esterhuyse.

Daar is tyd tot 2 Augustus 2021 om skriftelike kommentaar in te dien. VL het ’n veldltogblad beskikbaar gestel vir submissies teen hierdie wet. Die submissies wat op hierdie blad gemaak word sal aan die parlement oorhandig word. Die webblad kan besoek word by https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-right-to-self-defence/

Posted on by jonckie

Comments Off on Onluste wys waarom die wapenwet gestop moet word, sê Vrystaat Landbou

Category: Veiligheid Tags :