Maak die N3 oop ter wille van voedselproduksie – VL

Padteken langs N3

Die landbousektor word gekonfronteer met ‘n werklike risiko van voedselproduksie onsekerheid indien die opening van die Durban hawe en N3 nie geprioritiseer word nie.

Volgens die president van die Vrystaat Landbou (VL), Francois Wilken, is die organisasie baie bekommerd oor die gevolge van die huidige onstabiliteit in KZN en Gauteng op voedselsekerheid.

“Boere en landboubesighede langs die N3 gebruik die roete om produksie-insette te bekom en om hul produkte op die mark te lewer. Dit maak die N3 een van die belangrikste voorsieningsroetes vir die landbousektor. Hierdie situasie is veral kommerwekkend, aangesien ‘n langdurige ontwrigting insettekorte sal veroorsaak.

Boere is onder meer afhanklik van kunsmis- en brandstof invoer. Die ontwrigting van toegang tot hierdie lewensbelangrike goedere kan voedselproduksie ondermyn,” het Wilken gesê.

Boerderygebiede moet begin voorberei vir die nuwe plantseisoen vir mielies, soja, bone en sonneblomgewasse. Dit is egter op dié stadium onseker wanneer insetvoorsieningskettings
in werking sal wees. Die land se graanprodukte word grotendeels via die N3-roete en die Durbanse hawe uitgevoer. Dieselfde geld vir ingevoerde produkte (bv. rys, koring en palmolie). Die produksie en handel van bees-, skaap- en bokproduksie word ook onderbreek deur die sluiting van die N3.

As sodanig rig Vrystaat Landbou ‘n dringende beroep op die heropening van die N3 en die Durbanse brandstofraffinadery onder militêre bewaking. “Ons het die veilige heropening van die N3 en strategiese handels- en voedselroetes nodig om ekonomiese vertroue te herstel en voedselsekerheid vir ons land te verseker”, het Wilken afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Maak die N3 oop ter wille van voedselproduksie – VL

Category: Veiligheid