Hoe om die regte rugsteun- of opwekkingstelsel te kies en te verseker

Elektrisiteit prysverhogings tussen April en Julie 2021, tesame met die alomteenwoordige bedreiging van beurtkrag, lei daartoe dat baie Suid-Afrikaners hulself tot alternatiewe kragbronne en rugsteunstelsels wend, maar hoe kies ‘n mens die korrekte stelsel, hoe pas jy dit op en hoe laat jy dit voldoende verseker?

“Suid-Afrikaners moet nie alleen ‘n allemintige 15% meer vir elektrisiteit opdok nie, maar is ook deurentyd bewus van die druk op die nasionale kragnetwerk wat hulle binne ‘n oogwink sonder elektrisiteit kan laat,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Dit gaan ‘n gesamentlike poging verg om vebruik te verlaag, maar hierin lê ook ‘n geleentheid vir klein verstellings en slim beleggings wat verbruikers in beide die kort- en langtermyn ‘n hele paar rand kan spaar en terselfdetyd die omgewing kan help.”
As ‘n goeie vertrekpunt, gebruik Virseker en die span by Solar Craft die energie-piramide vir doeltreffendheid:

Energiebesparing (geen of lae koste): Afskakel van ligte, afstel van geiser-termostate, minder warm watergebruik, uitprop van ongebruikte toestelle ens.
Energie-effektiwiteit (relatief lae koste): Energiedoeltreffende gloeilampe en ander toestelle, geisertydskakelaars, hittepompe of sonpanele vir geisers.
Hernubare energie (hoër koste): Alternatiewe energiebronne soos sonwaterverhittingstelsels en ander sonkragtoestelle bied uitstekende waarde, tesame met onafhanklikheid van die netwerk en verlaagde impak op die omgewing.

“Dis nie alles-of-niks nie, want ‘n mens kan die omskakeling na ‘n energieslim huishouding in fases benader,” sê Coetzee. “Fokus eers op besparing en effektiwiteit en spreek die grootste verbruikers in jou huis aan. Daarna kan jy kyk na rugsteunstelsels, soos batterye wat van die gewone elektrisiteitstoevoer af laai, om jou tydens onderbrekings te help. Jy kan stelselmatig batterye toevoeg om jou vir langer of met meer toestelle te onderhou. Dan kan jy kyk na energie-opwekking deur bv. sonpanele. Jy kan weereens stelselmatig sonpanele byvoeg om jou huis meer onafhanklik van die netwerk te maak.”

Wanneer dit by die keuse van stelsel kom, sê Rohann Mattheus ‘n direkteur van Solar Craft, dat die beste oplossing vir jou in die eerste plek bepaal word deur jou huidige elektrisiteitsverbruik en hoe energiedoeltreffend jy leef – nie die grootte van jou huis of die aantal mense daarin nie – en tweedens deur jou behoeftes ten tye van ‘n kragonderbreking:

Slegs ligte: ‘n Klein stelsel van sowat R15 000 sal werk vir sporadiese onderbrekings van ‘n paar ure. Dit laai vanaf die netwerk en skakel slegs tydens onderbrekings oor na die battery. Energiebesparende gloeilampe kan help om die maksimum diens uit batterye te put. Sonpanele lewer hier nie ‘n merkwaardige besparing nie.

Ligte en noodsaaklike toerusting: Sou jy noodsaaklike toestelle soos TV’s, rekenaars, Wi-Fi, elektriese heinings, alarms en ‘n yskas byvoeg, is ‘n 3kW omsetter met 2.4kWh battery-kapasiteit (3 ure bystand) die minimum vereiste. ‘n 5kW omsetter word egter aanbeveel vir opgraderingsruimte.

Vir ongeveer R60,000 kan ‘n stelsel met 1.8kW sonpanele geïnstalleer word, met ‘n verwagte besparing van 8kWh tot 10kWh op ‘n sonnige dag.

Ligte, Noodsaaklike- en Nie-Noodsaaklike Toerusting: Sou jy toestelle soos wasmasjiene, swembadpompe en mikrogolfoonde byvoeg, is ‘n 5kW omsetter met ‘n 4.8kWh battery (3 ure bystand) die minimum vereiste. ‘n 8kW omsetter word aanbeveel vir opgraderingsruimte.

Vir ongeveer R90,000 kan ‘n 5kW-stelsel met 3kW sonpanele en ‘n 4.8kWh Lithium battery geïnstalleer word, met ‘n verwagte besparing van 15kWh tot 18kWh op ‘n sonnige dag..

Verhittingstoeselle: Dit sluit onder andere geisers, stowe en verwarmers in. Laasgenoemde twee kan deur ‘n sonkragstelsel of ‘n gasstelsel gedek word, maar wat die geiser betref word ‘n sonwaterverhittingstelsel sterk aanbeveel as ‘n meer geldslim belegging.

Sonkrag en sonwaterverhitting bied uitstekende beleggingswaarde met geen- of lae risiko, met waterverhittingtoestelle wat normaalweg in minder as 24 maande vir hulself kan betaal en sonkragtoestelle wat normaalweg binne 3.5 tot 6 jaar dieselfde kan doen.

Belangrike dinge om in ag te neem wanneer jy ‘n verskaffer kies sluit die volgende in:

– hoe lank die verskaffer bestaan, hul aantal suksesvolle installasies en hoe sterk die onderneming is om oor 5 jaar nog goeie naverkopediens te kan lewer,
– hoe goed hul terugvoer van bestaande of vorige kliënte is,
– of hul installasies aan SANS en NERSA se vereistes voldoen, deur gekwalifiseerde en geregisreerde elektrisiëns uitgevoer word en of ‘n elektriese ingenieur die kwaliteit van komponente en installasies nagaan,
– of hulle oor genoegsame kennis beskik om raad te gee en of die produk wat wat hulle bied 100% geskik is vir jou behoeftes en
– of hulle na die installasie ‘n sertifikaat van voldoening (“COC”) uitreik.

Wanneer dit by die ontwerp van, en sorg vir, hierdie stelsels kom is dit beter om ‘n effens groter stelsel te kry as wat jy benodig, aangesien dit minder druk op die stelsel sal plaas en die risiko van probleme sal verlaag. Alle standaard beskermingsmeganismes moet ingesluit word en komponente moet op ‘n gepaste plek – veral wat temperatuur, blootstelling aan stof en water betref – geïnstalleer word.

In terme van veiligheid beskik meeste moderne omsetters oor moniteringstelsels wat ‘n duidelike aanduiding sal gee as iets skort. Dit is belangrik om onmiddellik daarop te reageer, die oorsaak van ‘n fout vas te stel en, indien nodig, regstellings te maak.

Ten slotte, wys Coetzee ‘n paar belangrike dinge uit om in ag te neem wanneer dit by die versekering van rugsteun- en opwekkingstelsels kom:

– Losstaande kragstelsels kan gespesifiseer word onder alle risikodekking, of dit kan gedek word onder huisinhoud (mits dit nie buite staan nie). Kragstelsels wat permanent aan ‘n gebou gekoppel word sal onder geboueversekering gedek word, maar die versekerde waarde van die gebou moet dienooreenkomstig aangepas word.

– Enige installasie moet moet volgens die vervaardiger se instruksies en, waar toepaslik, die relevante bou regulasies gedoen word.

– Insluitings en uitsluitings is in meeste gevalle dieselfde as vir alle risikodekking, huisinhoud en geboueversekering, afhangend van waar die stelsel ingesluit of gespesifiseer is. Dis egter belangrik om direk by jou versekeraar duidelikheid te kry.

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Bpk, ‘n gemagtigde nie-lewens finansiële-diensverskaffer (FDV-lisensienommer: 16354)
Enige verwysing na “ons”, “deur” of “met” op hierdie webwerf/advertensie verwys na Auto & General.

Posted on by jonckie

Comments Off on Hoe om die regte rugsteun- of opwekkingstelsel te kies en te verseker