Bestuurder vir 3 ure vasgevang in vragmotor wat rol buite Oudtshoorn

Die bestuurder van ‘n vragmotor wat Donderdagmiddag 8 Julie op ‘n grondpad omgeslaan het, was vir bykans drie ure in die kajuit van die vragmotor vasgepen terwyl reddingswerkers gespook het om hom te bevry.

Die ongeluk het Donderdag om ongeveer 12:50 op die Lategansvlei-pad tussen Lategansvlei en Matjiesrivier gebeur.

‘n Konvooi vragmotors van Garden Route-distriksmunisipaliteit was besig om gruis aan te ry nadat hulle as gevolg van sterk wind hulle werk op die Swartbergpas moes staak. Die vragmotors het die gruis na ‘n gedeelte van die Lategansvlei-pad aangery waar daar ook padwerke gedoen word. Voor ‘n driffie het een van die vragmotors skynbaar as gevolg van die stof teen die agterkant van ‘n ander vragmotor gebots, die pad verlaat en teen ‘n helling omgeval.

Die vragmotor het op die bestuurderskant te lande gekom en die bestuurder se bene is in die kajuit vasgedruk.

Die toneel was ongeveer 35 km buite Oudtshoorn en 29 km met die grondpad langs. Reddingswerkers en paramedici was egter gou op die toneel. Hulle het ‘n drip aan die man gekoppel en bevestig dat hy geen ernstige beserings aan sy lyf opgedoen het nie. Hulle kon egter nie bevestig of sy bene ernstig beseer is voordat hy bevry is nie.

Meganiese kake is gebruik om die bestuurder se regterbeen, wat deur die stuurkolom vasgedruk is, te bevry, maar sy linkervoet was tussen pedale en die vloerpanele van die vragmotor vasgepen. Die deur en ‘n gedeelte van die vragmotor se dak sowel as die hele instrumentpaneel moes met meganiese toerusting verwyder word sodat reddingswerkers toegang tot die man se vasgepende voet kon kry. As voorkomingsmaatreël en om te keer dat die vragmotor dalk verder omkantel is een van die ander vragmotors teen die bak getrek om dit te stut.

Bykans drie ure na die ongeluk kon die reddingswerkers daarin slaag om die man se voet te bevry en hom uit die stuurkajuit haal.

Die bestuurder kon sy voet beweeg en met ‘n aanvanklike ondersoek het dit nie geblyk dat hy enige frakture opgedoen het nie. Hy is per ambulans hospitaal toe geneem, en is later ontslaan.

Teen Maandag was hy steeds tuis om aan te sterk.

‘n Insleepdiens van George, wat in die herwinning van swaar voertuie spesialiseer, is ontbied om die wrak van die vragmotor te verwyder.

Verslag deur Hannes Visser, Oudtshoorn Courant

Posted on by jonckie

Comments Off on Bestuurder vir 3 ure vasgevang in vragmotor wat rol buite Oudtshoorn

Category: Voertuig Tags :