Wetsgehoorsame wapeneienaars is nie die rede vir geweldsmisdaad nie, adv. Shandu – Vrystaat Landbou.

“Wetsgehoorsame wapeneienaars is nie die rede vir geweldsmisdaad nie, adv. Shandu”. Dit is die reaksie van Vrystaat Landbou op adv. Lungelwa Shandu, voorsitter van die Vuurwapen-appèlraad, se uitsprake op die aktualiteitsprogram Carte Blanche, op Sondag 6 Junie 2021.

Tydens die onderhoud verduidelik adv. Shandu die SAPS se redes vir die verbanning van selfverdediging as motivering vir ʼn wapenlisensie.

Volgens adv. Shandu, word wapens wat vanaf wettige wapeneienaars gesteel word die meeste tydens geweldsmisdaad gebruik. Adv. Shandu redeneer dat, indien daar minder wettige vuurwapens in besit van wetsgehoorsame wapeneienaars is, misdadigers nie toegang tot wapens sal kry nie. Om hierdie rede meen Adv. Shandu dat spesifiek daardie gene wat wapens vir selfverdedigingsredes nie wapens mag besit nie (2:46 tot 3:30).

Volgens die President van Vrystaat Landbou, Francois Wilken, impliseer adv. Shandu dat wetsgehoorsame landsburgers die rede vir geweldsmisdaad is. Indien adv. Shandu se redenasie verder geneem sou word, sal dit ook beteken dat ook ander bates soos voertuie (wat ook in rooftogte gebruik word) uit die hande van voertuig eienaars geneem moet word.

Indien adv. Shandu se argument korrek is:
1. Waarom dan nie ook die sekuriteitsmaatskappye, SAPS en weermag volkome ontwapen nie? – Sekerlik sal dit alle geweldsmisdaad stop?
2. Waarom word ander redes, as selfverdediging, dan vir wapen-lisensiëring aanvaar?
3. Beteken dit slegs wapens wat vir selfverdediging redes gelisensieer is, tydens geweldsmisdaad gebruik word?

Vrystaat Landbou (VL) is bekommerd dat die uitlatings van Adv. Shandu op ʼn dieper probleem dui. Die onderhoud laat by die kyker die indruk dat die polisie die skuld vir die hoë misdaadsyfer op die slagoffers van misdaad plaas en nie op hul eie gebreke nie. Indien die polisiëring van die land op standaard was sou:

  • daar geen behoefte by landburgers gewees het om wapens vir selfverdediging redes te besit nie.
  • ʼn krimineel nooit toegang tot die huis van ʼn wettige vuurwapen eienaar kon kry nie.
  • minder geweldsmisdaad gepleeg kon word.

Verder meen Wilken dat die regering verder poog om by wyse van die konsepwysigingswetsontwerp sy nalatigheid in die behoorlike hantering van vuurwapenlisensie aansoeke te verbloem. In hierdie opsig is bestaande wetgewing alreeds in plek en deur die behoorlike toepassing en uitvoering daarvan kan daar toegesien word dat ʼn behoorlike sisteem in plek is.

“Die probleem blyk te wees by die toepassing eerder as die wetgewing. Indien dit die intensie is om ʼn ander uitkoms te soek deur wetgewing te verander, is ʼn ander uitkoms in die huidige omstandighede vergesog. Daar kan bloot behoorlike dienslewering aan die publiek verskaf word.”

Vrystaat Landbou (VL) is van mening dat die insetsel oor die konsep vuurwapenbeheerwysigingswet aanduidend is van die anti-vuurwapen agenda wat tans deur die regering en sekere instansies gedryf word.

Om te verseker dat diegene wat teen die wetsontwerp gekant is se stem gehoor word, het Vrystaat Landbou ‘n skakel op sy webwerf beskikbaar gestel (https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-right-to-self-defence/ ) wat lede van die publiek kan voltooi. Die voorleggings sal deur VL by die sekretariaat van die polisie ingedien word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Wetsgehoorsame wapeneienaars is nie die rede vir geweldsmisdaad nie, adv. Shandu – Vrystaat Landbou.