Vrystaat Landbou vra vir Covid inentings vir die landbousektor

Aangesien die landbousektor as ‘n noodsaaklike diens wat voedselsekerheid aan die land bied bevoorreg was om voort te gaan tydens vorige inperkings, het die onlangse golf van die nuwe Delta-variant ’n baie groter invloed op die landbousektor gehad as die vorige variante.

Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die onlangse toename in berigte oor boere, werkers en vooraanstaande gemeenskapsleiers, oud en jonk, wat in ons landelike en landbougebiede diens doen, wat in ‘n kritieke toestand opgeneem of selfs oorlede is. Ons innige meegevoel met die agtergeblewe gesinne.

Francois Wilken, president van VL, sê dat die organisasie om die volgende redes sy steun toevoeg tot die oproep om prioriteits-inenting van die landbousektor:

– Aangesien ons midde-in die kritieke oesperiode vir mielies is, is ‘n volledige werksmag op plase nodig.
– Plaaswerkers wat nie op plase woon nie, kan nie van die huis af werk nie en moet van dorpe na plase gebring word, wat ander boere (dikwels ouer) en ander plaaswerkers blootstel aan die verspreiding van die siekte.
– Weens die aard van plaaswerk is dit baie moeilik om sosiale afstand te alle tye te bewerkstellig – dikwels moet ‘n boer en sy werker, of verskeie werkers ‘n swaar voorwerp optel, of vee hanteer met onvermydelike noue kontak met mekaar, ens.
– Veral in intensiewe landbou-ondernemings soos pluimvee, varkboerdery, tuinbou en voerkrale, is baie werkers soms onvermydelik in ‘n klein ruimte gekonsentreer, of baie werkers wat ‘n voorwerp hanteer sonder dat hulle elke keer kan ontsmet.
“VL raai lede aan om ekstra waaksaam te wees met hul gesinne en werkers op hul plase en indien hulle onvermydelike sake in dorpe moet doen, moet al die Covid-19-protokolle nagekom word.” adviseer Wilken. VL doen ook ‘n beroep op hul lede om hulself, gesinne sowel as hul werkers ouer as 60 jaar te laat inent en hulle moet registreer vir die 50+ groep vanaf 1 Julie.

VL het ook sy jaarlikse kongres, wat vir Augustus beplan was, uitgestel weens dieverwoestende gevolge van die huidige golf op die landbousektor in die Vrystaat.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou vra vir Covid inentings vir die landbousektor

Category: Veiligheid Tags :