Vrystaat Landbou versoek SAPD om ondersoek in Brendin Horner moord op te skerp

Vrystaat Landbou (VL) neem met sorg kennis dat die twee beskuldigdes in die Brendin Horner moord op 22 Junie 2021 suksesvol was in die toestaan van borg in die landdroshof te Senekal, deurdat DNS-uitslae daarop dui dat hul nie met die moord verbind kan word nie.

Volgens Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van VL, wil dit voorkom asof daar nog heelwat uitstaande bewyse is wat aan die polisie se ondersoekers beskikbaar gestel moet word of wat hier ter sprake moes kom. In dié verband is dit die mening van VL en die landbougemeenskap van Paul Roux dat die twee beskuldigdes nie alleen by die moord betrokke kon wees nie.

Die inligting het deel gevorm van ʼn dokument wat Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem Beheerkamer en plaaswag, in Oktober 2020 aan die Minister van Polisie oorhandig het met die versoek dat ʼn taakspan daargestel word ten einde die moord en georganiseerdheid van veediefstal te ondersoek.

Daar is ook versoek dat die moontlike betrokkenheid van polisielede by die tipe misdade in die area ondersoek word.

Na wat verneem word, wil dit voorkom asof daar maandeliks terugvoer deur die taakspan aan die landbougemeenskap van Bethlehem/Paul Roux gegee word. VL is egter van mening dat daadwerklike aksiestappe ontbreek om arrestasies en ʼn deurbraak te bewerkstellig.

Francois Wilken, president van VL, versoek die polisie via die kantoor van die Provinsiale Kommissaris, Generaal Motswenyane en die Minister van Polisie, Mnr Bheki Cele, dat indiepte ondersoek gedoen word om te bepaal welke daar nog enige uitstaande bewyse is om die twee beskuldigdes en moontlik addisionele oortreders met die moord te verbind.

“Die slagoffer en hul families in diè moord en so ook elke ander moord in die land, verdien die beste ondersoek in sodanige sake. Ondersoek deur die SAPD moet lei tot suksesvolle vervolging en vonnis oplegging in die howe en nie net besoeke en simpatie betuiging aan familielede nie.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou versoek SAPD om ondersoek in Brendin Horner moord op te skerp

Category: Veiligheid Tags :