Vuurwapenbeheerwysigingswet – Minister uit voeling

Die Minister van Polisie, mnr Bheki Cele, se opmerking dat om landsburgers te bewapen nie die land se hoë misdaadsyfer gaan oplos nie, is aanduidend van sy totale miskenning en wanpersepsie wat betref die regte van die gemeenskap. Dit is die mening van Vrystaat Landbou (VL) op ’n onlangse verklaring deur die ministerie van polisie.

“Die Grondwet bied inderdaad nie die reg om wapens te dra nie maar dit bied onder andere in artikel 11 en 12 die reg op lewe asook die reg op vryheid en sekuriteit van ʼn persoon waarby inbegrepe is die reg om vry te wees van alle vorme van geweld van beide openbare of private bronne – iets wat Minister Cele blykbaar uit die oog verloor het.” meen Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.

“Die regering faal sy burgers in hierdie opsig en is dit nie nodig om gronde hiervoor vêr te gaan soek nie, aangesien ʼn blote beskouing van die mees onlangse misdaadsyfers aanduidend is van die graad van verval en die versuim om hierdie konstitusionele plig na te kom.” sê Wilken.

Wettige vuurwapeneienaars het tot op hede alles moontlik gedoen om binne die bepalings van die wet te bly, die verskuiwing van die fokus deur wettige wapenbesit in te perk, is bloot aanduidend
van ʼn alreeds gevestigde kultuur van miskenning en die versuim om gemeenskappe te beveilig.

Vrystaat Landbou doen ʼn beroep op landsburgers om hul stem te laat hoor en deel te neem aan die proses waarvoor voorsiening gemaak word. Dit is van kritiese belang dat die wanpersepsies geskep deur politici, wat elke dag deur gewapende polisielede opgepas word, uit die weg geruim word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vuurwapenbeheerwysigingswet – Minister uit voeling

Category: Veiligheid