Vuurwapenbeheerwet – landbou skop vas

“Selfverdediging is elke mens se reg en kan nie deur die staat aanbande gelê word nie.” Dit was die reaksie van Vrystaat Landbou (VL) nadat die nuut voorgestelde wysigings aan die Vuurwapenbeheerwet Vrydagaand in die Staatskoerant afgekondig is. Die wysigings behels onder meer dat die besit van vuurwapens vir selfverdediging verwyder word.

“Die blote gedagte dat die regering so ’n voorstel sal opper, in ’n land met van die hoogste moordsyfers in die wêreld, is nie net verregaande nie maar uiters ontstellend en gaan tot ʼn toename in kriminele anargie lei!”, sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). “Dit is absoluut in stryd met die bepalinge van die gemene reg wat betref die reg op noodweer (selfverdediging) voorsien, terwyl die Handves van Menseregte wat vervat is in die Konstitusie, die reg op lewe absoluut waarborg.”

Wilken sê verder dat veral landelike gemeenskappe reeds kwesbaar is, soos onlangs uitgewys in die toename van plaasaanvalle en – moorde statistieke, nie kan bekostig om van wettige vuurwapens ontneem te word nie.

“Die staat se onvermoë om sy burgery teen toenemende kriminaliteit te beskerm, die persepsie dat kriminele meer regte het en vuurwapens mag besit wat gewoonlik onwettig is, en nie meer die reg het om hom/haarself te verdedig nie, is absurd en ongrondwetlik.”

Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, wys uit dat Minister van Polisie, mnr Bheki Cele, se onlangse misdaadstatistiekvrystelling gemeld het dat 21.1% van alle moorde toegeskryf kan word aan gewapende roof, verkragtings, vigilantisme, bendevoorvalle en of weerwraak tussen die krimineel en die slagoffer.

Dat meervoudige moorde in 245 insidente gepleeg is waar 526 slagoffers hul lewens verloor het omrede families nie in staat was om hulself te verdedig teen gewapende kriminele met vuurwapens nie, laat die vraag ontstaan of die oorgrote meerderheid van vuurwapens wat in ernstige geweldsmisdade deur kriminele gebruik word, onwettig is? “Die wetsgehoorsame burger se reg om hom/haarself te beskerm en te verdedig word nou bevraagteken, wat absurd is.” sê Esterhuyse.

Vrystaat Landbou sal eersdaags ʼn veldtog loods ten einde die voorgestelde wetswysigings op die Vuurwapenbeheerwet teen te staan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vuurwapenbeheerwet – landbou skop vas

Category: Veiligheid Tags :