Vrystaat Landbou ondersteun Nersa in opponering van Eskom-hofaansoek

Vrystaat Landbou (VL) het vandag in ‘n verklaring gesê dat hulle die nasionale energiereguleerder, Nersa, se mediaverklaring van 10 Mei 2021 ten volle ondersteun. In die verklaring versoek Nersa dat alle belanghebbendes hulle steun om die hof se hersiende aansoek teen te staan. “Ons is van mening dat die hofbeslissing in die guns van Eskom, om pryse hoër as inflasie te verhoog, die landbousektor beslis negatief sal beïnvloed met verhoogde voedselpryse en werksverliese as die gevolg.” het Francois Wilken, president van VL, gesê.

VL het vroeër voorleggings aan Nersa gemaak tydens al die openbare verhore wat in die Vrystaat gehou is, oor die aansoek van Eskom om tariefverhogings. Die organisasie het telkens die volgende feite beklemtoon:

1. Die vaste kostekomponent van rekeninge is onbekostigbaar vir boere, veral kleinboere en familieboere, wat die grootste deel van VL lede uitmaak, en moet vrygestel word van die verhogings.

2. Dat die verbruiker nie die swaarste hoef te dra vir Eskom se slegte beplanningsbesluite nie; hoër energieverkope te verwag terwyl die beurtkrag verhoog en verbruikers forseer word om eie energie-oplossings, rugsteunkrag en energiebesparingstegnologie te installeer.

3. Dat die landbousektor as prysnemers nie net hoër as inflasieprysstygings van Eskom in die gesig staar nie, maar ook die verhoogde arbeidskoste weens die nasionale minimum loon, die verhoging van brandstofkoste deur brandstofbelasting, ens., Dit alles maak sekere produksies energie (en arbeids) intensiewe ondernemings wat nie lewensvatbaar is nie en kan op die langtermyn tot werkverminderings in die sektor lei asook voedselprysinflasie.

4. Dat die blatante korrupsie wat by Eskom plaasgevind het, nie deur die verbruikers herwin en betaal moet word nie.

“Vrystaat Landbou verwelkom dus Nersa se ferm benadering in die besluit om die hofaansoek wat deur Eskom teen Nersa geloods is, op hersiening te neem en die energie reguleerder se besluit ten opsigte van die goedkeuring van ‘n regulatoriese terugwerkende aansuiweringsaansoek (RCA) balans van R13.271 miljard vir die 2018/2019 finansiële jaar asook die bykomende besluit om Eskom se aanvullende inkomste balans van R1.288 miljard ten opsigte van die 2018/2019 finansiële jaar toe te staan, tersyde te stel.” sê Wilken.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou ondersteun Nersa in opponering van Eskom-hofaansoek

Category: Algemeen