Sprinkane terroriseer areas in Wes-Vrystaat

Boere in die Hertzogville- en Boshof-omgewing in die Wes-Vrystaat is die afgelope naweek deur ‘n donker sprinkaanwolk begroet toe ‘n groot swerm vanaf die Noord-Kaap oorgewaai het.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), bevestig dat skakeling met die hoof van die Vrystaatse departement van Landbou, dr TJ Masiteng, en die bestuurder van die Vrystaatse rampbestuur, mnr. Mafa Moqhaka, daartoe gelei het dat die plaaslike spanleiers vir die beheer van sprinkane bevestig is om in die betrokke gebiede te help, aangesien die beheer van migrerende plae onder die departement ressorteer.
Armour adviseer boere om as volg op te tree wanneer swerms gewaar word:

1. Boere moet die swerms dophou en hul bure in kennis stel in watter rigting die swerm beweeg. Die plaaslike sprinkaanbeampte / spanleier moet ook van ‘n ligging (location pin) en foto voorsien word om hulle op hoogte te hou.

2. Die ligging moet omstreeks 16:00 aan u plaaslike spanleier / sprinkaanbeampte deurgegee word om die spanne na die area te mobiliseer.

3. Omstreeks 18:00 – 19:30, wanneer die sprinkane vir die nag gaan lê, moet die GPS-koördinaat van die finale posisie aan die betrokke beampte oorgedra word. Die span sal dan gedurende die nag of vroeg die volgende oggend spuit terwyl die sprinkane stil is.

4. Waar sprinkane gedurende die nag op die grond gespuit word, word ‘n onttrekkingsperiode van twee weke vir diere aanbeveel.

Armour sê dat boere die volgende spanleiers van die sprinkaanbeheer-span kan kontak om in die betrokke gebiede te help:

– Hennie Grobbelaar – 0734455430 – Luckhoff en nabye areas
– Joggie Du Plessis – 0829265660 – Vanderkloof-area
– George de Vos – 0724954133 – Philippolis en omgewing
– Ronnie Cawood – 0824687650 – Ghaap area, Boshof en nabye areas

Indien lede van die publiek groot sprinkaanswerms in die Vrystaat sien, kan ‘n foto en ligging aan jack@vslandbou.co.za gestuur word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Sprinkane terroriseer areas in Wes-Vrystaat

Category: Algemeen Tags :