Boere beweeg vinnig om te voorkom dat sprinkane gewasse vernietig

Soos sprinkane verlede week met die sterk wind in die Vrystaat aangekom en op die oeslande rondom Bultfontein neergedaal het, moes boere vinnig beweeg om te verseker dat hul oeste en dié van hul bure nie verslind word nie! Dit het egter groot koste-implikasies gehad en Vrystaat Landbou (VL) het ingestem om R60 000 by te dra tot die koste wat die boere reeds aangegaan het om te voorkom dat die swerms na ander plase verhuis.

Die beheer van treksprinkane word deur die Wet op Landbouplae, 1983 (Wet No. 36 van 1983) bestuur en word geadministreer deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, wat die verantwoordelikheid het om treksprinkane vanuit hul De Aar-kantoor te beheer.

Volgens VL se streekverteenwoordiger in die Bultfontein-omgewing, André van Rensburg, “was die stelsel nie gereed om die swerms te hanteer nie en moes boere hul eie planne maak, omdat ‘n uitbraak van sprinkane 15+ jaar laas so ver in die Vrystaat versprei het. Die grondeienaars het verantwoordelikheid aanvaar om uitbrake deur middel van ‘n WhatsApp-groep wat deur VL geskep is, aan te meld en te help met die beheer.”

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, sê die organisasie doen ‘n beroep op die publiek om bydraes vir lugbespuiting en gifkoste om aan te hou bespuit in ‘n poging om te keer dat die swerms na ander provinsies beweeg. Bydraes kan óf direk aan die Bultfontein Distriks Boere Unie-rekening óf aan VL se rampbestuursfonds betaal word om naburige streke in Bultfontein en Glen-Noord van Bloemfontein ook te help.Vrystaat Landbou Rampfonds:
Vrystaat Landbou
ABSA
Rekeningnr: 470940670
Takkode: 632005
Verwysing: Sprinkaan + selnommer

Armour sê ook dat VL alle betrokke gebiede sal help om die nodige opleiding en toerusting in samewerking met die Departement te kry ter voorbereiding van wanneer die eiers wat deur hierdie sprinkane gelê is, uitbroei na die lentereën en dringend gekontroleer sal moet word terwyl hulle nog in die vakkerstadium is.

Posted on by jonckie

Comments Off on Boere beweeg vinnig om te voorkom dat sprinkane gewasse vernietig

Category: Algemeen