Vrystaat Landbou vra vir meer polisie taakspanne in Vrystaat

Die polisie taakspan wat na die moord op Brendin Horner in die Bethlehem Beheerkamer se bedieningsgebied saamgestel is, vergader gereeld. Dié taakspan, wat op versoek van georganiseerde landbou asook die boerderygemeenskap in die area saamgestel is en wat uit verskeie divisies van die SAPD bestaan, fokus hoofsaaklik op polisie betrokkenheid en -korrupsie in die georganiseerdheid van veediefstal.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Landelike Veiligheidskomitee, bevestig dat terugvoer van die taakspan aan boerderygemeenskappe op ’n “need to know” beginsel plaasvind. “Wat egter nog vir boerderygemeenskappe in die area kommerwekkend is, is die gebrek aan kapasiteit binne die veediefstal-eenheid wat die area bedien.” sê Le Roux.

’n Ernstige versoek deur VL is herhaaldelik met die kantoor van die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer, mnr Sam Mashinini, die Provinsiale Kommissaris van die SAPD in die Vrystaat asook met Forums op nasionale vlak (AgriSA en Veediefstal Voorkomings Forum) opgeneem ten einde veediefstal-eenhede in die Vrystaat en veral aangrensend tot die RSA/Lesotho grens te bemagtig met genoegsame mannekrag, voertuie en toerusting aangesien hulle so ’n groot bedieningsgebied het.

Die Bethlehem-area is juis een van hulle. Le Roux noem dat daar nog geensins enige verandering gekom het om die veediefstal-eenheid en boerderygemeenskappe in die verband tot hulp te wees nie. “Die enigste afleiding wat ons dus kan maak is dat veediefstal nie werklik ’n prioriteit vir die polisie en die minister is nie en dat daar ook nie ’n daadwerklike wil is om dit aan te spreek nie.”

Intussen sê Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, dat die organisasie se memorandum met die Vrystaatse LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer wat op 13 Oktober 2020 onderteken is, verder aandag moet geniet. Die memorandum tussen VL en die LUR versoek dat polisie betrokkenheid en -korrupsie daadwerklik aandag moet geniet deur die polisie met die saamstel van taakspanne in die provinsie om veral plaasaanvalle en georganiseerdheid van veediefstal te ondersoek. Die versoek het gemanifesteer in die samestelling van een taakspan in die Bethlehem-area die afgelope 6 maande.

Esterhuyse noem verder dat VL tydens ’n vergadering met die provinsiale bestuur van die SAPD in Oktober 2020 uitgewys het dat inligting alreeds van 14 dorpe se boerderygemeenskappe ontvang is wat dui op beweerde polisie korrupsie by misdade op landbougrond en veral veediefstal. Sover VL se kennis strek, is geen ander taakspanne in die Vrystaat saamgestel waar boerderygemeenskappe hul inligting aan ’n sameroeper van die polisie en of die Valke kon deurgee nie.

Die gebrek aan die inwerkingstelling van ’n werkswyse deur die polisie om sodanige strukture en kommunikasie in alle distrikte van die Vrystaat die afgelope 6 maande daar te stel, is problematies aangesien die nodige skakeling van inligting nie plaasvind nie.
VL rig dus ’n dringende versoek aan die Vrystaatse LUR van Polisie, Paaie en Vervoer om sodanige werkswyse te vestig wat aan boerderygemeenskappe beskikbaar gestel kan word. Sodanige optrede sal dui dat polisie korrupsie in alle areas van die Vrystaat ernstig opgeneem word, meen VL.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou vra vir meer polisie taakspanne in Vrystaat

Category: Algemeen