Ouditeur-generaal verslag bevestig VS probleme in polisie, paaie en vervoer departement

Die ouditeur-generaal het onlangs bevestig dat die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer R1,138 miljard verkwis het, waarvan R96 miljoen ongemagtigde uitgawes is. Die swak toestand van paaie in die Vrystaat was ’n sentrale besprekingstema van Vrystaat Landbou (VL) se onlangse distriksvergaderings wat regoor die provinsie aangebied is. Vrystaat Landbou spreek hul skok uit oor die verspilling van openbare geld, veral in die Vrystaat.

“Basiese dienste word nie gelewer nie en dit is nie as gevolg van beperkte hulpbronne nie, maar die administratiewe leierskap se onvermoë om diegene wat openbare fondse steel, wanbestuur en vermors verantwoordelik te hou. Hulle is verantwoordelik vir die bedreiging van voedselsekerheid en werkverliese in die provinsie.”, het Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, gesê.

Daar is toenemende navrae van lede en ondersteuners van Vrystaat Landbou, veral tydens die onlangse distriksvergaderings, om ondersoek in te stel na hoe en waar hulle belasting wat duidelik onwettig toegewys word, kan weerhou en eerder hierdie fondse te gebruik om self die werk te doen, waar die staat duidelik besig is om te misluk, en werk aan die plaaslike bevolking te bied.

Volgens die ouditeur-generaal dien die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer as voorbeeld van die volgehoue miskenning van voorskrifte vir aankope en was die grootste bydraer tot onreëlmatige uitgawes (R1 miljard).

Wilken bevestig dat VL, deur middel van die organisasie se padverteenwoordigers in die plaaslike boereverenigings, uiters bekommerd is en rapporteer gereeld aan die departement die stadige tempo en kwaliteit van die werk wat aan paaie gedoen word deur ‘n geselekteerde “verskafferspaneel” vir die herstel en instandhouding van paaie.

Die OG het verder verklaar dat die kultuur van geen gevolge geskep is deur die politieke en administratiewe leierskap se onvermoë om nagevolge te implementeer vir die deurdringende nie-nakoming van wetgewing. Die omgewing was dus kwesbaar vir wanaanwending, vermorsing en misbruik van staatsfondse.

VL doen ’n beroep op die ouditeur-generaal om vroeër eerder as later op te tree met die belofte dat die OG, ‘waar sy meen dat daar geen vordering is nie, die instrumente in die wet sal oproep om te verseker dat daar toepaslike en tydige aanspreeklikheid is’. VL sal hierdie situasie monitor en indien nodig aan die OG skryf oor hierdie aangeleenthede.

Posted on by jonckie

Comments Off on Ouditeur-generaal verslag bevestig VS probleme in polisie, paaie en vervoer departement