Vrystaat Landbou steun Ficksburg-protes vir beter paaie

Ficksburg se gemeenskapsforum, Sechaba sa Ficksburg, het alle roetes deur Ficksburg sedert 06:00vm op Woensdag, 17 Maart 2021 gesluit. Hulle sal die aksie handhaaf totdat hulle ’n bevredigende antwoord van die regering ontvang op hul brief, gerig aan die Premier van die Vrystaat, me. Sisi Ntombela. Die brief, wat op 2 Maart gelewer is, het ‘n dringende vergadering oor die voorsiening van dienste en instandhouding van infrastruktuur geëis om verdere optrede te voorkom.

Die forum verteenwoordig verskillende plaaslike instansies en organisasies, waaronder FITA (Ficksburg Taxi Association), AFASA (African Farmers ‘Association of South Africa), landboubesigheid OVK, Setsoto Youth Development, Ficksburg meentgrondhuurders, Ficksburg Landbouvereniging en ander.

“Die feit dat gemeenskappe paaie moet sluit om die aandag van die regering te kry, is verregaande en skandelik aan die kant van die regering. Die regering sal moet kennis neem van gemeenskappe se besware, want almal het ‘n grondwetlike reg op basiese dienste en die versuim om infrastruktuur te onderhou, ontneem mense van hierdie reg.”, sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL). Wilken meen dit is positief dat gemeenskappe saamstaan. “Ons ondersteun die gemeenskap van Ficksburg en sal voortgaan om druk op die regering uit te oefen om hul pligte uit te voer soos vervat in ons Grondwet.”

Volgens Friedl von Maltitz, streeksverteenwoordiger van VL, het die forum besluit om tot aksie oor te gaan “weens die onbevredigende reaksie van die regering.” Hul optrede het bestaan uit die versperring van die R26 / R70-aansluiting (Rosendal T-aansluiting), R26 / S444-aansluiting (Owanti-afdraai) en die R26 / S67-aansluiting met taxi’s en verskillende landboutoerusting. Von Maltitz sê dat die swaar reën in die begin van die jaar na baie droë jare die laaste slag vir die reeds brose paaie-infrastruktuur was. “

Dit het daartoe gelei dat ons paaie-infrastruktuur dwarsdeur die Vrystaat uiteindelik ingegee het na jare se versoeke, briewe en vergaderings met personeel wat geen betekenisvolle optrede tot gevolg gehad het nie. Plaaslike gemeenskappe het genoeg gehad en staan nou saam en neem sake vreedsaam in eie hande.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou steun Ficksburg-protes vir beter paaie

Category: Voertuig Tags :