Vrystaat gemeenskappe ervaar toename in misdaadgolf

Die Vrystaat het die meeste plaasaanvalle van al die provinsies in die onlangse derde kwartaal misdaad statistieke van 2020-2021 gehad, ʼn toename van 53.85%. Die Vrystaat het ʼn toename van 14.1% in moord insidente en 39.2% in poging tot moord insidente gedurende dieselfde tydperk gehad. Die moord en poging tot moord syfers is die hoogste in ʼn 5 jaar periode. Vrystaat Landbou (VL) beskou die toename as ʼn bewys dat die regering nie die SAPD na behore toerus en beman om misdaad effektief te bestry nie.

Die ernstige geweldsmisdade vorm deel van plaasmoorde en -aanvalle wat uitgewys het dat die Vrystaat die meeste plaasmoorde in ʼn 3 maande periode vanaf 1 Oktober tot 31 Desember 2020 ervaar het (57.15%). Hoë misdaad areas tov plaasaanvalle/moorde is Bloemfontein (kleinhoewe areas), Clocolan, Hennenman, Mafube, Odendaalsrus, Viljoenskroon en Virginia.

“Tydens die Covid-19 inperkings met beweging van boere wat ingekort is, het ons ervaar hoe die regering erns maak om regulasies toe te pas. Ons weier om te aanvaar dat die misdaadgolf wat gemeenskappe terroriseer net eenvoudig so aanvaar moet word. Die her-implementering van die landelike beveiligingstrategie met dieselfde erns en politieke wil is eenvoudig en kan gedoen word.”, sê Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL).

Alhoewel die gewapende roof syfer met 12.5% gedaal het, het huis- en besigheidsrowe met onderskeidelik 2.7% en 6.8% toegeneem. Hierdie syfers van ernstige geweldsmisdaad, wat onlangs deur die Minister van Polisie in sy kwartaallikse vrystelling weergegee is, het ʼn direkte impak op alle gemeenskappe en boerdery gemeenskappe meld Buys.

Wat veediefstal-statistieke aanbetref, het die Minister uitgewys dat 74 947 stuks vee in die 3 maande periode in die RSA gesteel is met 44.96% daarvan skape, 23.29% beeste en 21.37% bokke. Daar is geen aanduiding gegee rakende die getalle wat per provinsie gesteel is nie, alhoewel die Vrystaat die derde hoogste aanmelding van veediefstal misdryf syfers in die land het.

Wat egter kommerwekkend is, is dat behalwe die 36 dorpe wat ʼn toename in veediefstal van 10% en meer aangedui het, daar nog 25 dorpe wat in ʼn 9 maande periode vanaf 1 April tot 31 Desember 2020, dieselfde of meer veediefstal sake gerapporteer het as wat in die vorige finansiële jaar aangemeld is. Volgens dr Buys moet die dorpe tesame met die top 10 stasies van aanmelding ernstig prioriteit en aandag geniet in terme van verhoogde misdaad voorkomingsaksies en operasies.

Mnr Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, meen die feit dat die hersiene landelike beveiligingstrategie (LBS) nog nie in boerderygemeenskappe in die Vrystaat uitgerol is nie, kan pertinent gesien word in die verhoogde misdaadprent wat deur die Minister uitgewys is en wat die landbousektor nadelig beïnvloed.

Vrystaat Landbou (VL) versoek die SAPD om tesame met boerderygemeenskappe die LBS met gepaardgaande veiligheidsplanne, verhoogde polisiëringaksies en die daarstel van taakspanne, in landelike gebiede uit te rol ten einde groter veiligheid in gemeenskappe daar te stel.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat gemeenskappe ervaar toename in misdaadgolf

Category: Algemeen