Ficksburg-protes werp vrugte af

ʼn Gemeenskap wat vir ’n gesamentlike doel protes aangeteken het, het die nodige druk toegepas en vrugte afgewerp.

Sosiale media gons steeds oor die blote gedagte dat boere en taxi-eienaars-en-bestuurders kan saamstaan, maar dit is presies wat op 17 Maart in Ficksburg gebeur het toe ‘Sechaba sa Ficksburg’, die gemeenskapsforum, soos een man saamgestaan het om hul misnoeë te wys oor die regering se laksheid om provinsiale paaie te herstel. Die forum het ’n vreedsame protesaksie gelei waartydens verskeie roetes in en om Ficksburg met trekkers, bakkies en taxis gesluit was.

Die forum sluit in, onder andere, die Ficksburg Taxi Association (FITA), die African Farmers’ Association of South Africa (AFASA), die landboumaatskappy OVK, Setsoto Youth Development, Ficksburg Commonage Tenants, en die Ficksburg Landbouvereniging. Die besluit om paaie deur Ficksburg te sluit is geneem nadat die forum op 2 Maart ‘n brief aan die Vrystaatse Premier, me Sisi Ntombela, gelewer het waarin hulle geëis het dat die Premier of LUR dringend met hulle vergader oor die toestand van dienste en infrastruktuur, en veral die haglike toestand van die paaie.

Friedl von Maltitz, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL) en woordvoerder vir die forum, het bevestig dat die Vrystaatse LUR van Paaie, Sam Mashinini, laat Woensdagmiddag in Ficksburg gearriveer het en met die forum vergader het. Op versoek, het Mashinini ook saam met forum-lede op die Hammonia-pad gery en “hy het self erken mens kan dit nie eens ’n pad noem nie,” sê von Maltitz.

Von Maltitz bevestig verder dat die LUR onderneem het dat slaggate op die R26 onmiddellik herstel moet word en dat die Hammonia-pad dadelik geskraap moet word om ’n grondpad te word.

Daar is verder onderneem dat Morgan Barret, voorsitter van Ficksburg Landbouvereniging, saam met die padingenieur sal werk om vordering te monitor, die begrotingsbesteding te beplan asook watter paaie herstel moet word.

“Ons is dankbaar dat die aksie resultate gelewer het en hoop dat dit kan oorspoel in die hele provinsie.” sê von Maltitz.

Posted on by jonckie

Comments Off on Ficksburg-protes werp vrugte af

Category: Veiligheid, Voertuig