Ficksburg-gemeenskap skep paaie forum

Verskeie instansies van die Ficksburg gemeenskap het op 2 Maart byeengekom met een gemeenskaplike doel, naamlik die haglike toestand van paaie in die omgewing. ’n Skrywe is deur die vergadering aan die Premier van die Vrystaat, me Sisi Ntombela, gerig wat aandring op ’n dringende vergadering binne 7 dae om te verhoed dat verdere aksie geneem word.

Volgens Friedl von Maltitz, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou (VL), het Ficksburg landbouvereniging en die Imperani landbouvereniging, wat opkomende boere in die omgewing verteenwoordig, die inisiatief geneem om alle rolspelers van die omgewing te betrek. Die vergadering, wat bygewoon is deur lede van o.a. FITA (Ficksburg Taxi Association), Afasa, OVK, Setsoto Jeug Ontwikkeling, Ficksburg meentgrond huurders (commanage tenants), ens. het besluit om ’n forum te stig wat bekend staan as ‘Sechaba sa Ficksburg’.

“Die boere is omgekrap oor die toestand van paaie, maar ons het nou eers werklik besef hoe ver dit die res van die gemeenskap ook beïnvloed.” sê von Maltitz. “Taxi bestuurders se inkomste is in gedrang, omdat sekere roetes heeltemal onbegaanbaar is.”

In die skrywe aan die Premier wat gesamentlik deur alle lede van die forum opgestel is, word dit duidelik gestel dat die vele beloftes deur verskeie staatsamptenare, insluitend die Premier, insake die herstel en opgradering van paaie in die distrik nie gerealiseer het nie. Die forum dring daarom aan op ’n vergadering met die Premier en die amptenare verantwoordelik vir die instandhouding van die distrik se paaie. Die forum stel dit ook duidelik dat enige fondse wat vir die herstel van paaie bewillig word, slegs deur die forum geadministreer moet word.

Verlede week is ’n beswaarskrif met meer as 2 000 handtekeninge van inwoners van Lindley, Petrus Steyn en Arlington aan die kantoor van Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir paaie, polisie en vervoer ingehandig wat dringende herstel van die R707 versoek.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), meen dit is verblydend dat gemeenskappe saam staan. “Die regering sal moet kennis neem van gemeenskappe se besware, want almal het ’n grondwetlike reg tot basiese dienste. Die versuim om infrastruktuur in stand te hou, ontneem mense egter van hierdie reg.”

Besoek ook:

Ficksburg community unites to create roads forum

Safe Driving on Roads with Potholes and Preventing Pothole Damage 

Posted on by jonckie

Comments Off on Ficksburg-gemeenskap skep paaie forum