Wat benodig landbou uit die begroting?

“’n Veilige en bevorderlike omgewing is nodig in die Vrystaat en Suid-Afrika om te kan floreer.” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

Tot dusver het die regering egter nie daarin geslaag om hierdie bevorderlike en volhoubare omgewing te bied nie, maar kies eerder om uiteenlopende en verdelende politieke ideologieë te volg.

Sonder toestande wat bevorderlik en volhoubaar is vir produktiewe kommersiële landbou in die Vrystaat, kan meer as 10 000 poste verlore gaan, voedselsekerheid in gevaar stel en plattelandse dorpe en hul infrastruktuur sal verder verval en landelike inwoners in ‘n voortdurende afwaartse spiraal van armoede vasvang.

ʼn Bemagtigende begroting wat belyn is met die aksieplanne wat by die SONA voorgelê is, sal geloofwaardigheid aan die voorgestelde planne bied. Sal die Minister van Finansies die geld aanwend soos deur die President voorgehou is? VL sal wil sien dat die volgende kwessies aandag geniet:

– Voldoende begroting om landelike veiligheid te verbeter en die vlaag van geweldsmisdaad aan te spreek.
– Toekenning na waardige werkskepping in plaas van toelaes wat die sosiale afhanklikheid van die staat verhoog.
– Stappe om die indiensneembaarheid en produktiwiteit van die intreevlakwerkers te verhoog wat hoër nasionale minimum lone eis.
– Spesiale infrastruktuur-projek wat broodnodig is om landelike paaie se infrastruktuur op te los.
– Voldoende fondse vir die aankoop van genoeg grond wat benodig word vir hervormings in die landbousektor en om in die behoefte aan grond vir die oprigting van eie huise waar munisipale dienste gelewer kan word, te voorsien.
– Spreek die staat se salarisrekening van ‘n oneffektiewe opgeblase burokrasie wat jare se kaderontplooiing geskep het aan.

Vrystaat Landbou het hierdie en ander aangeleenthede opgeneem in ‘n brief aan Minister Mboweni waarin die organisasie kommentaar lewer op sy ekonomiese beleid en wenke vir die begroting voorstel. ’n Afskrif van hierdie brief kan op ons webtuiste gevind word – https://bit.ly/3sx554L

Vrystaat Landbou hoop van harte dat die minister gelei word deur goeie ekonomiese redenasies en nie deur politieke ideologieë nie. Of erger nog, dat die begroting gerig is op die plek waar die ANC die laaste keer hul laaste plundertog van die staatskas kan hou voordat ons as ‘n nasie van die fiskale krans tuimel om die bodem te tref!

As ‘n nasie is ons almal deur COVID geraak en moet ons almal die gordel stywer trek deur luukses meer te belas om sodoende die ekonomie weer aan die gang te kry en werk en waardigheid te skep.

“Die landbousektor het beslis sy waarde vir die nasionale ekonomie bewys deur sy buigbaarheid, ondanks die feit dat hy ook met die natuurlike elemente gesukkel het. Ons hoop om in die komende begroting as sodanig erken te word en verder bemagtig te word om die ekonomie te bevorder, in plaas daarvan om droog gemelk te word deur stremmende belasting!” sê Wilken.

Belastingkortings vir gemeenskappe wat gedwing word om openbare infrastruktuur reg te stel of wat uitgawes aangaan wat verband hou met die verbetering van plaasveiligheid, sal verwelkom word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat benodig landbou uit die begroting?

Category: Algemeen Tags :