Paraatheid red boer se lewe

Paraatheid en vinnige optrede deur mede-boere en die polisie het waarskynlik Pieter Swart, ‘n boer van Kroonstad, se lewe gered.

Volgens Boy Saaiman, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou, is Swart vanoggend deur vier mans buite sy huis oorval toe hy wou uitgaan. Die vier mans het na bewering ‘n deur na die huis probeer oopbreek om toegang tot die huis te verkry.

Ten spyte van verskeie meswonde, kon Swart daarin slaag om sy vuurwapen te kry en het verskeie skote afgevuur. Drie van die verdagtes is noodlottig gewond en een verdagte het ontsnap, maar is ‘n paar uur later danksy vinnige optrede deur die Landelike beveiligingsplan en die polisie gearresteer.

“Boere kan nie meer bekostig om weerloos te wees nie.” het Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Veiligheidskomitee, gesê. “Vrystaat Landbou doen ‘n ernstige beroep op boere om by hul naaste veiligheidstrukture betrokke te raak en hulself, hul gesinne en werkers te bemagtig.”

Vrystaat Landbou hoop dat President Ramaphosa tydens sy Staatsrede die kwessie van landelike veiligheid sal erken en aanspreek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Paraatheid red boer se lewe

Category: Veiligheid