Vrystaat-vloede: padinfrastruktuur verkrummel

Vrystaat Landbou (VL) het gewaarsku dat die Vrystaatse provinsie se padinfrastruktuur in ‘n ernstige toestand is. VL het ‘n dringende brief aan die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer gerig en gevra dat dringende stappe gedoen word om paaie vir kritieke toegang te herstel.

Dié optrede kom omdat die onlangse oorstromings in die provinsie ernstige skade aan Vrystaatse paaie aangerig het.

Die afgelope paar jaar is paaie in die Vrystaat baie swak in stand gehou. Die onlangse erge reëns het daartoe gelei dat baie paaie en brûe weggespoel of onbegaanbaar geword het. Hierdie situasie is tekenend van ‘n ineenstorting in kritieke infrastruktuur wat nodig is vir voortgesette ekonomiese aktiwiteit in landelike gebiede. Boere sal dit toenemend moeilik vind om produkte na markte te vervoer. Daarbenewens plaas die verhoogde stremming van beweeglikheid die lewens en lewensbestaan van hele gemeenskappe in gevaar.

Byvoorbeeld, baie arm mense het nie toegang tot mediese sorg nie. Plaaswerkers vind dit ook toenemend uitdagend om na en van hulle werk te reis. “Indien die situasie nie hanteer word nie, sal plaasbewoners soos pensioenarisse en skoolkinders nie toegang tot dienste kan kry nie (taxi’s het lankal geweier om op hierdie paaie te ry) en klinieke en ambulanse sal nie toegang tot plase kan kry om chroniese medisyne af te lewer en kritieke siek pasiënte te vervoer nie. Dit maak alles inbreuk op die basiese menseregte van ons landelike burgers,” het VL-president, Francois Wilken, gesê.

Wilken sê boere het reeds begin om paaie van kritieke belang te herstel, maar ons sal finansiële en materiële ondersteuning nodig hê om verdere rampspoed af te weer. Daar is ‘n dringende versoek vir die beskikbaarstelling van toerusting soos padskrapers en TLB’s aangesien die staat se verouderde geel vloot basies buite werking weens swak instandhouding is. Verder is materiaal soos bitumen/teer, beton, duikerpype en diesel vir boere se toerusting wat die herstelwerk doen, nodig.

Volgens Wilken finaliseer VL ‘n interne plan om die swak toestand van paaie te probeer verbeter. As daar nie aandag aan padinfrastruktuur gegee word nie, sal VL-lede gedwing word om paaie te herstel waar toegang van kritieke belang is. As ‘n onmiddellike stap raadpleeg VL regs- en ander kundiges oor wat burgers en ander entiteite kan doen om paaie te begin herstel.

In Maart 2019, na die vloede naby Rouxville in Mohokare, het dit drie maande geneem om die plaaslike raad sover te kry om ‘n plaaslike noodtoestand te verklaar om sodoende befondsing van die paaie-departement beskikbaar te stel om onbegaanbare paaie te herstel. Tans, byna twee jaar later en met die verklaring van ‘n noodtoestand, is hierdie paaie steeds nie behoorlik herstel nie.

Met swaar reënbuie sal die bietjie gruis wat op die paaie oorbly, wegspoel en die paaie lewensgevaarlik vir reisigers maak en sal dit selfs duurder word om hierdie paaie te herstel. Om hierdie rede doen VL ’n beroep op politieke hoofde om die afkondiging van ‘n noodtoestand te bespoedig en hulpbronne beskikbaar te stel om ons landelike bewoners by te staan.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat-vloede: padinfrastruktuur verkrummel