Reën in Vrystaat: Boere dankbaar, maar vloede rig skade aan

Die meeste boere in die Vrystaat juig oor die goeie reën wat die afgelope tyd in die provinsie voorgekom het, maar saam met die reën kom ook talle uitdagings. Soos die toestand van paaie in die landelike gebiede en skade aan oeste.

Volgens ’n opname wat Vrystaat Landbou onder die organisasie se streekverteenwoordigers gedoen het, het die meeste distrikte bo-gemiddelde reën ontvang. Volgens Koot Naude, streekverteenwoordiger in die Ngwathe-distrik (wat dorpe soos Heilbron, Edenville en Parys insluit), is daar nie tans vloedskade in die gebied nie alhoewel sekere landerye erg verspoel het. Naude sê dat daar op sekere dele nog sonneblomaanplantings gedoen moet word, maar dat die nat toestande dit nie nou toelaat nie. ʼn Groot kwelpunt is egter die toestand van paaie in die distrik. “Die toestand van paaie het nog meer versleg en op sommige dele is paaie heel onbegaanbaar.” sê Naude.

Die Nketoana-distrik, met dorpe soos Reitz en Lindley, het oor die naweek alleen reeds 100mm ontvang. Volgens Nollie Steyn, VL-streekverteenwoordiger vir die distrik, is daar nog heelparty boere wat koring moet stroop. Ook in dié distrik is die toestand van paaie nou ’n groot probleem.

Intussen sit sekere boere in die Hoopstad en Bultfontein-distrikte met hande in die hare weens erge vloedskade aan nie net landerye nie, maar ook aan huise. Benewens die feit dat dié boere skade aan infrastruktuur het, bestaan die moontlikheid ook dat hul aanplantings kan verloor.

Vrystaat Landbou (VL) is reeds in gesprek met die hoof van Cogta in die Vrystaat, maar sal ook binne eie geledere kyk waar nood verlig kan word.

Vrystaat Landbou het ’n Rampfonds om boere by te staan. Lede van die publiek of organisasies wat ’n bydrae wil lewer, kan hul naam SMS na 37846 (SMS kos R1, B’s en V’s geld). Vrystaat Landbou sal jou dan kontak.

Posted on by jonckie

Comments Off on Reën in Vrystaat: Boere dankbaar, maar vloede rig skade aan

Category: Algemeen Tags :