Plaasaanvallers poog om voorman in septiese tenk te verdrink

Die 77-jarige plaasvoorman, mnr. Simon Makhotha, was op Sondag, 17 Januarie 2021, die teiken van ʼn plaasaanval op Harrisdale in die Zastron-gebied. Makhotha is omstreeks 20:00 deur drie persone oorrompel, aangerand en met messe gesteek.

Toegang tot die plaaswoonhuis is verkry, waarna Makhotha vasgebind en verder gemartel is. Nadat die plaaswoonhuis van etlike besittings geplunder is, het die aanvallers gepoog om Makhotha in die septiese tenk van die plaashuis te verdrink.

Hy is deurtentyd geskop en met klippe gegooi in ʼn poging om sy kop onder die rioolwater te hou. Teen dagbreek kon Makhotha daarin slaag om homself te bevry. Hy is deur die buurman se werkers gevind. Hulp is ontbied waarna Makhotha in die hospitaal in Zastron opgeneem is.

Vrystaat Landbou (VL) veroordeel die plaasaanval ten sterkste. Hulle hoop dat Makhotha volkome sal herstel en dat die polisie die aanvallers spoedig sal vastrek. Mnr. Marthin de Kock, VL-streekveiligheidsverteenwoordiger, het gemeld dat die aanval op Makhotha die boerderygemeenskap geruk het.

Die plaas behoort aan ‘n opkomende swart boer wat nie op die plaas woonagtig is nie. “Alle persone wat op plase woon en werk, is aan die groeiende misdaadgevaar in die landelike gebiede blootgestel,” sê De Kock. Na die aanmelding van die aanval op Makhotha kon die plaaslike polisie nie by die toneel kom nie.

Klaarblyklik was daar nie voertuie beskikbaar nie.

Die gebrek aan mannekrag en voertuie in die landelike gebiede is al vir jare ʼn knelpunt, maar word nie deur die regering hanteer nie.

Alhoewel VL steeds ʼn beroep op polisie en die regering doen om te sorg dat polisiestasies volledig toegerus is, is dit toenemend duidelik dat die boerderygemeenskap op hul eie is.

Volgens mnr. Tommie Esterhuyse, visepresident van VL, is daar gister, 18 Januarie, reeds met gesprekvoering met die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie (SAMRK) rakende gebrek aan implementering van die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie (NLBS) begin.

Dit dra grootliks by tot lae weerbaarheid in landelike gemeenskappe. Die regeringsdepartemente moet hul huis in orde kry om gemeenskappe se veiligheid te verseker en hulle die nodige dienste te voorsien.

Posted on by jonckie

Comments Off on Plaasaanvallers poog om voorman in septiese tenk te verdrink

Category: Veiligheid Tags :