Grondbesit: Regering se opregtheid moet bevraagteken word

Die regering se grondbeleid, as instrument om individuele grondbesit in Suid-Afrika te verhoog, kan nie ernstig opgeneem word nie. Dit is die mening van Vrystaat Landbou (VL) na die onlangse publikasie oor die Wetsontwerp op Onteiening. Volgens VL-president, Francois Wilken, bedreig die nuwe onteieningswetsontwerp alle Suid-Afrikaners se regte op eiendom.

Spesifiek die eiendomsreg van arm en gemarginaliseerde gemeenskappe sal ondermyn word.

Wilken meen dit is belangrik om te verstaan dat die verklaarde doelstellings van die nuwe Wetsontwerp op Onteiening daarop gemik is om die staat toe te laat om enige eiendom sonder vergoeding te teiken en te onteien. Met ander woorde, deur hierdie wetgewing wil die regering nie eiendomsreg uitbrei nie, maar dit probeer beperk. Geskiedenis het ons gewys dat wanneer regerings inbreuk maak op eiendomsreg, dit die armes en gemarginaliseerdes is wat die uiteindelike prys betaal.

Die regering het nie die onteieningswetsontwerp in sy huidige formaat nodig om die basis van private grondbesit in Suid-Afrika uit te brei nie. As breë grondbesit ‘n prioriteit by die regering is, moet dit ‘n proses begin om die eienaarskap van die 5 300 plase in staatsbesit aan die individuele begunstigdes (voorheen benadeelde individue) oor te dra.

VL meen dit is problematies dat wettige voorheen benadeelde individue en opkomende boere slegs as ‘n ‘huurderboer’ op die grond kan aanbly wat deur die staat besit word. Die onteieningswetsontwerp sal nie hierdie gevalle aanspreek nie – dit sal bloot die regte van die regmatige grondeienaars en die lewensbestaan van plaaswerkers en landelike gemeenskappe in die algemeen vernietig.

VL is besig om ‘n volledige verslag op te stel om te dien as reaksie op regering se versoek om kommentaar op die Wetsontwerp op Onteiening. Die organisasie is steeds heftig gekant teen sekere bepalings in die onteieningswetsontwerp. Van die spesifieke geskilpunte is dat die wetsontwerp:

1. Dit moontlik maak om eiendom te onteien sonder vergoeding,
2. Sluit enige eiendom in (nie net grond nie), en
3. Laat toe dat ‘n te vae en breë definisie van ‘openbare belang’ as rede vir onteiening gebruik word.

Die geleentheid vir skriftelike openbare insette oor die Wetsontwerp op Onteiening sluit op 10 Februarie 2021. VL doen ‘n beroep op alle besorgde persone om hul stemme teen die wetsontwerp te laat hoor. Ten einde hulp te verleen, het VL ‘n portaal op hul webwerf geskep waar die publiek die kritieke afdelings van die wetgewing kan teëstaan (https://vrystaatlandbou.co.za/stop-expropriation/).

Vrystaat Landbou glo dat eiendomsreg uitgebrei moet word na alle Suid-Afrikaners. Die onteieningswetsontwerp sal egter hierdie reg, wat sentraal staan in werkskepping en ekonomiese groei, beperk indien nie totaal vernietig nie.

Posted on by jonckie

Comments Off on Grondbesit: Regering se opregtheid moet bevraagteken word

Category: Algemeen Tags :