Vrystaat Landbou behaal sukses met plaasmoord protes in Hennenman teen borg vir beskuldigdes

Vrystaat Landbou (VL) het vandag ʼn suksesvolle protes in samewerking met Hennenman Boerevereniging aangeteken teen plaasmoorde. VL het ‘n versoekskrif aan die staatsaanklaer oorhandig waarin versoek word dat geen borg aansoek toegestaan mag word vir plaasmoordenaars nie. Meer as 400 mense het vandag in Hennenman bymekaar gekom hiervoor. Die twee verdagtes het waarskynlik as gevolg van die druk nie ʼn aansoek om borg gebring nie.

Die bewusmaking wat geskep is danksy VL en die boeregemeenskap en die impak daarvan het moontlik daartoe bygedra dat die beskuldigdes nie om borgtog aansoek gedoen het nie.

VL is gereed om borg te opponeer indien dit ‘n strategie van die beskuldigdes sou wees om op ‘n latere stadium met ‘n dringende aansoek te kom. VL verwelkom die feit dat die SAPD ‘n aangewese span kundiges beskikbaar gestel het om plaasmoorde in die Vrystaat te ondersoek. “Die belangrikste boodskap van die dag is dat jy jouself teen misdaad moet weerbaar maak – die verantwoordelikheid begin by jou!” het Tommie Esterhuyse, vise-president van VL, gesê.

Die plaaslike boerevereniging voorsitter, TP Theron, het ʼn beroep op die protesgangers gedoen om A-polities te staan, maar tog sterk standpunt in te neem teen plaasmoorde en simpatie te deel met die Hills-gesin en Hennenman gemeenskap.

“Ons is hier om protes aan te teken teen wat in ons land gebeur. Alle moorde maak saak en spesifiek plaasmoorde in die landelike gemeenskap.” het Theron gesê.

Tommie Esterhuyse het verder gesê dat geen borg toegestaan mag word aan die beskuldigdes nie en dat elke persoon wat vandag teenwoordig is help om die boodskap uit te dra.

“Pieter en Eddie Hills het voedsel produseer vir die land se mense. Hulle het gehelp tydens die groot brande in die Vrystaat. Plaasmoorde kan nie verder verpolitiseer word nie, ons eis aksie!” het Esterhuyse gesê.

Na afloop van die toesprake is protesgangers genooi om by die kranslegging te begin om blomme en ruikers neer te lê ter nagedagtenis aan die slagoffers van plaasmoorde, spesifiek die van Pieter en Eddie Hills van Hennenman.

Na die verrigtinge is ʼn “Geen borg” versoekskrif oorhandig aan die staatsaanklaer om voor die landdros gebring te word as bewys van die gemeenskap se woede en emosie rondom plaasmoorde en dat die gemeenskap geen borg eis vir die beskuldigdes.

Vrystaat Landbou wil sy dank uitspreek teenoor elke individu en organisasie wat vandag deelgeneem het aan die protes. Die plaaslike boerevereniging het hulle baie goed van hulle taak gekwyt om orde te handhaaf en beheer oor die dag se gebeure te hou. Dank is ook aan die motorfiets klubs gegee soos die “Unite Against Crime” organisasie wat die geleentheid ondersteun het.

Vrystaat Landbou vra dat elke persoon hulle petisie vir die “Geen borg”-veldtog vir plaasaanvalle sal teken. Die publiek kan die veldtog steun deur hulle NAAM te SMS na 37846 (R1/SMS. B’s & v’s geld).

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou behaal sukses met plaasmoord protes in Hennenman teen borg vir beskuldigdes