Elektrisiteit prysstygings bedreig die volhoubaarheid van landbou

Die steeds stygende elektrisiteitskoste bedreig die volhoubaarheid van bekostigbare voedselproduksie. Dit was die waarskuwing wat Vrystaat Landbou (VL) vandag aan NERSA gegee het. Dr Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, het NERSA toegespreek oor Eskom se voorgestelde planne om die prys van elektrisiteit verder te verhoog.

Volgens Armour is dit onaanvaarbaar dat verbruikers in die algemeen die prys moet betaal vir die slegte bestuursbesluite van staatsondernemings en betalingsmisdadigheid deur munisipaliteite.

“Eskom se aansoek om pryse te verhoog, is ‘n poging om verliese van vorige jare te dek. Eskom het die beraamde vraag na energie oorskat, daarom het hulle te veel geproduseer en word hulle dus gekonfronteer met die finansiële gevolge. In plaas daarvan om die verbruiker droog te laat bloei, moet Eskom en NERSA plaaslike regerings dwing om hul uitstaande elektrisiteitsrekeninge te betaal.” het Armour gesê.

VL is gekant teen die voorgestelde prysstygings. Elektrisiteit is ‘n belangrike insetkostekomponent van intensiewe voedselproduksie. Intensiewe voedselproduksiestelsels dra by tot meer as 30% van Suid-Afrika se voedselproduksie. Besproeiingsboerdery, pluimvee, varkhokke, melkerye, tonnelproduksie en intensiewe vrugte- en groenteproduksie het alles aansienlike elektrisiteitskoste-komponente wat verband hou met produksie.

Soos dit nou staan, word boere gekonfronteer met ‘n kostestruktuur wat die landbouproduktiwiteit benadeel. As ‘n gemiddelde Vrystaatse boer byvoorbeeld een punt by sy huis het, een by sy werkershuise en een by ‘n boorgatpunt vir huishouding, personeel en besproeiing, betaal hy R6 000 in vaste Eskom-koste voordat hy nog enige elektrisiteit gebruik het.

Boere absorbeer gewoonlik insetkostestygings, wat lei tot strenger marges. Aangesien boere prysnemers is, sal hulle die stygende energiekoste absorbeer en sodoende word die volhoubare en bekostigbare voedselproduksie bedreig.

Eskom se versuim om betroubare energievoorsiening te lewer, het die verbruikersgedrag verander. ‘n Keerpunt is reeds bereik waardeur alternatiewe energie meer ekonomies is. Indien die elektrisiteitsopwekkingsmark dus geopen sou word, sou boere en verbruikers elektrisiteit teen laer pryse kon bekom. Dit sal die volhoubaarheid en uitbreiding van voedselproduksie in Suid-Afrika verseker.

Nersa het versoek dat VL binne 7 dae feitelike inligting van sy lede moet verstrek rakende die gebruik, voordele en koste van alternatiewe energie.

Electricity price increases threatens farming sustainability – Free State Agriculture

Posted on by jonckie

Comments Off on Elektrisiteit prysstygings bedreig die volhoubaarheid van landbou

Category: Algemeen Tags :