Vrystaat-brande: Gemeenskap se steun stroom in.

Groot dele van die Wes-Vrystaat lê in puin. Vrystaat Landbou (VL) het vandag in ‘n verklaring gesê dat verlede week se wyd verspreide veldbrande een van die belangrikste landboustreke op hul knieë gedwing het.

Volgens Vrystaat Landbou president, Francois Wilken, is duisende hektare se veld vernietig, diere verbrand, en miljoene rande se skade aangerig. Ook die jong landbouer Tewie Nel (28) is ernstig tydens brandbestryding beseer.

“Na afloop van die Senekal tragedie het die brande boere naby breekpunt gebring, maar die bykans ongekende openbare steun was ‘n keerpunt”, het Wilken gesê.

Honderde mense en instansies, van regoor Suid-Afrika, het gereageer op VL se versoek vir bystand aan boere. “Van voer, vee en finansiële bydraes tot ondernemings wat wil help om infrastruktuur te herstel. Selfs ‘n skenking uit die VSA is ontvang”, het Wilken gesê.

“In hierdie spanningsvolle tye, was dit bemoedigend dat mense van alle rasse en instansies uit diverse gemeenskappe, opgestaan het om te help”.

Daar sal nou verseker word dat die broodnodige hulpverlening so spoedig as moontlik by die onderskeie landbougemeenskappe uitkom. VL sien hierdie as ‘n gesamentlike poging tussen gemeenskappe, organisasies en individue. ‘n Koördineringsgroep is saamgeroep deur Naude Pienaar van Agri Noordwes bestaande uit VL, Agri Noordwes, Agri Noord-Kaap, Mpumalanga Landbou, Gift of the Givers, AfriForum, Caring Daisies, SAAI, Boere in Nood, Droogtehulp SA, TLU NW, Droogtehulp met Burre Burger, SENWES en NWK Beperk wat op hul beurt op hul netwerke steun in hierdie reuse koördineringstaak.

VL het ook grondvlakstrukture versoek om te help om deeglike behoeftebepalings te doen en word ‘n streekvergadering binne die geaffekteerde streke reeds vir Dinsdag, 27 Oktober 2020 beplan.

Landbou kan nie genoeg dankie sê vir al die steun nie. Die nood is egter steeds baie groot. Elkeen wat steeds ‘n bydrae wil lewer, kan hul naam SMS na 37846 (SMS kos R1, B’s en V’s geld). Vrystaat Landbou sal jou dan kontak.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat-brande: Gemeenskap se steun stroom in.

Category: Algemeen Tags :