Vestiging van landelike veiligheid bevelsentrum vir die Vrystaat

Vrystaat Landbou (VL) en die Transvaal Landbou Unie SA (TLU SA) het ‘n behoefte geïdentifiseer om samewerking met alle veiligheidrolspelers in landbou te kommunikeer om georganiseerde, gestandaardiseerde en geakkrediteerde opleiding binne die Landelike Beveiliging Strategie (LBS) in boerderygemeenskappe in die Vrystaat te vestig.

Dit het gerealiseer in positiewe gesprekvoering met die TLU SA en Agri SA op 9 Oktober 2020 te Kroonstad. Daar is besluit op ‘n gesamentlike werkswyse deur rolspelers om ‘n Landelike Veiligheid Bevelsentrum vir die Vrystaat te stig, waar alle rolspelers verteenwoordiging sal geniet. Dit sluit in SAPD, TLU SA, VL en ander organisasies wat ‘n belang het om veiligheid in boerderygemeenskappe te bevorder.

Die sentrum sal as provinsiale sambreel dien om alle opleiding, misdaadinsidente, probleme, uitdagings en tekortkominge insake dienslewering deur die kriminele regstelsel te integreer, te sentraliseer en effektief aan te spreek. Die sentrum sal terugvoer gee aan die Provinsiale Prioriteitskomitee oor Landelike Veiligheid.

Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA Vrystaat, is baie opgewonde en positief oor die vestiging van so ‘n sentrum waar alle rolspelers betrokke gaan wees. Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, wat al 12 jaar lank by landelike veiligheid betrokke is, sien die sentrum as ‘n mylpaal wat bereik is om alle rolspelers in te trek ten einde groter veiligheid in landelike gebiede te verseker.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee, verwelkom die stigtinig van ‘n dringende Bevelsentrum na positiewe gesprekvoering met die Nasionale Polisie Kommissaris op 5 Oktober 2020. Die betrokkenheid van
gemeenskappe en intelligensiedienste is juis hier noodsaaklik vir pro-aktiewe optrede.

Deur die sentrum sal die rol, betrokkenheid en bemagtiging van veral jong landbouers binne die hersiende Landelike Beveiliging Strategie (LBS) uitgebou word, volgens Marthin de Kock, vise-vooristter van VL se Landelike Veiligheidskomitee.

Opvolg gesprekvoering sal binnekort gereël word met uitnodigings wat aan die nodige rolspelers gestuur sal word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vestiging van landelike veiligheid bevelsentrum vir die Vrystaat

Category: Veiligheid