Senekal: Vrystaat Landbou eis dringende aksie teen korrupte SAPD-lede

Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL) het in ‘n memorandum aan senior Vrystaat staatsamptenare, LUR Polisie, Paaie en Vervoer, Mnr M.S. Mashinini en LUR Landbou en Landelike Ontwikkeling, Mnr. K.W. Bulwane, geëis dat dringende aksie deur die regering geneem moet word om die vlaag plaasaanvalle op boere en plaaswerkers te stop.

Vrystaat Landbou veroordeel gewelddadige kriminaliteit in die algemeen, insluitend geweld teen vroue en kinders, maar spesifiek geweld teen boere en plaaswerkers. In die memorandum eis landbou die volgende:

1. Deeglike ondersoek na die korrupte polisie- amptenare geïmpliseer in veediefstalsindikate soos aangedui in ‘n verslag met inkriminerende bewyse reeds oorhandig deur VL se Bethlehem Landelike Veiligheidskoördineerder aan die Valke. VL is oortuig dat daar ‘n direkte korrelasie tussen veediefstal en plaasaanvalle is.

2. Ons eis dat groepe en politiese partyverteenwoordigers wat boere as gronddiewe en uitbuiters etiketteer en dat indringende aksie teen hulle geneem word wat die geweld en rassehaat aanhits. Die moet onmiddellik gestop word!

Volgens Wilken moet alle protesaksie gedoen word binne die bepalings van die wet.

“Daar bestaan kommer vanuit die Senekal-gemeenskap dat onverantwoordelike optrede van buitepartye wat probeer om die situasie uit te buit vir ideologiese en politiese punte wesenlike skade kan berokken” sê Wilken. Die veiligheid en welstand van die Senekal-gemeenskap moet op die voorgrond geplaas word en diegene asook lede van Vrystaat Landbou wat die verrigtinge wil bywoon, word versoek dat hulle die impak en moontlike negatiewe gevolge van hulle optrede op algemene verhoudinge in ag sal neem wat betref voorgestelde aksies en die effek wat dit op die landbou en algehele gemeenskap van Senekal sal hê.

Vrystaat Landbou bevestig ons strewe na stabiliteit en ‘n vreedsame samelewing tussen alle gemeenskappe, swart en wit, het Wilken gesê.

Die landbou gemeenskap sal met die owerhede saamwerk maar sal op ons eie ook aangaan waar ons moet.

Posted on by jonckie

Comments Off on Senekal: Vrystaat Landbou eis dringende aksie teen korrupte SAPD-lede

Category: Veiligheid