Die jarelange versuim om die belangrikheid van die landbouer te erken

Die jarelange versuim en bykans weiering om die broodnodige rol wat die landbousektor in sy geheel vir die land speel te erken is die oorsaak en gevolg van die sinnelose moord op die jong landbouer Brendin Horner in die fleur van sy lewe, wat hierdie week in die landbougemeenskap van Paul Roux brutaal vermoor is.

Vrystaat Landbou (VL) het met skok kennis geneem van die onsinnige moord op Mnr Horner wat aanduidend is van die kultuur wat oor verskeie jare posgevat het asook die versuim om hierdie vergrype te veroordeel en effektief vas te vat en spreek hom ten sterkste hierteenoor uit.

Landbou en burgerregte organisasies beywer hulle al verskeie jare om hierdie probleem effektief te probeer aanspreek maar die erns van die saak en die gevolge daarvan is eers redelik onlangs deur die regering besef toe die landbousektor letterlik die kastaiings uit die vuur moes krap met die uitbreek van die COVID-19 pandemie.

Die moord op Mnr Horner asook alle ander moorde en aanvalle soos die aanval op plaaswerkers op 3 Oktober 2020 in die Hennenman distrik in toenemende mate in die landbousektor, is sprekend van hierdie kumulatiewe gevolg van die jarelange versuim en vereis daadwerklike optrede eerder as lippediens waarmee die landbousektor en die land die afgelope tyd tevrede moes wees. Die openbare veroordelings van die moorde op landbouers word verwelkom maar die situasie gaan veel meer as blote veroordelings vereis om hierdie wesenlike probleem te probeer aanspreek.

Die regering moet erns maak met die bemagtiging van landelike gebiede in terme van groter kapasiteit, logistieke steun (voertuie en tegnologie) rakende polisiëring. Die daarstel van effektiewe landelike polisiërings eenhede soos wat dit in die Landelike Beveiliging strategie bepaal word, moet prioriteit aandag geniet en so vinnig as moontlik daargestel word, ten einde groter veiligheid te bewerkstellig. Hierdie onaanvaarbare situasie in die landelike gebiede vereis egter ook dat ons persoonlike veiligheid na nog ‘n hoër rat moet oorskakel en dat daar bykans ‘n net om geliefdes en werkers se bewegings gespan moet word.

Vrystaat Landbou gaan steeds voort om hierdie probleem so effektief moontlik te probeer aanspreek en sal geen steen onaangeraak laat om die omgewing waarin ons landbouers moet opereer en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan aan te spreek nie. Die spoedige arrestasie van diegene wat by die sinnelose moord van Mnr Horner betrokke was word verwelkom en die persone betrokke by die ondersoek word bedank vir hul vinnige optrede. Daar sal voortgegaan word om die Regering die belangrikheid van die sektor te laat insien vir die voortbestaan van die inwoners van die land.

Kyk Ook:

Rural Safety and Preventing Stock Theft

Posted on by jonckie

Comments Off on Die jarelange versuim om die belangrikheid van die landbouer te erken

Category: Algemeen