Drie mans sterf toe voertuig rol buite Oudtshoorn

Drie families van Oudtshoorn is in rou gedompel nadat drie mans Maandagmiddag in ‘n ongeluk buite Oudtshoorn omgekom het. ‘n BMW X5 met vyf insittendes het omstreeks 12:00 ongeveer 5 km buite Oudtshoorn die pad verlaat en gerol.

Al vyf insittendes is uit die voertuig geslinger.

Die polisie op Oudtshoorn het bevestig Ernest Oktober (28), Zachery Mashella (40) en Jonathan Abrahams (37) op die toneel deur paramedici dood verklaar is.

Die ander twee insittendes, Ivan Coetzee en Jamaine Windvogel is met beserings hospitaal toe geneem. Coetzee is Dinsdag ontslaan.

Die motor was vanaf Dysselsdorp in die rigting van Oudtshoorn onderweg toe die ongeluk gebeur het. Geen ander voertuie was in die ongeluk betrokke nie.

Verbygaande motoriste het die vyf insittendes oomblikke na die ongeluk in die veld gevind.

Intussen het familielede van die insittendes die verspreiding van ‘n grafiese video wat op die toneel geneem is, ten sterkste veroordeel. Op dié video stap die persoon wat die video neem op die toneel rond en neem selfs een van die persone wat in pyn verkeer af sonder om hulp te probeer verleen. Daar is ook opmerkings oor ‘n selfoon wat op die toneel gevind is. Dié foon en ook kontant is egter nooit deur die polisie opgespoor of aan die naasbestaandes van die familie oorhandig nie.

Glenyss-Lynne Smith het haar broer, Ernest Oktober, as ‘n opgeruimde mens beskryf vir wie die gemeenskap en taxigemeenskap baie lief was.

“Afgesien dat sy dood vir ons ‘n groot skok was is dit ook ‘n hartseerdag omdat sy twee broers, Justin Booysen en Deuron Saptouw se dood nog vars in ons geheue is. “Saptouw is verlede jaar Augustus noodlottig in ‘n motorfietsongeluk beseer en Booysen is November dieselfde jaar vermoor. Oktober was ongetroud met geen kinders nie.

Volgens Colin Gelderbloem, ‘n boesemvriend van Jonathan (Tupac) Abrahams, het hy en ‘n paar vriende die vorige aand (Sondag) nog saamgekuier.” Ons het Maandag vir hom gewag toe ons die tyding gekry het. ”

Abrahams word oorleef deur sy verloofde Shahieda Jacobs en sy twee seuns. Oktober en Abrahams word Sondag en Saterdag onderskeidelik ter ruste gelê.

Mashella se familie het geen kommentaar gelewer nie. Die Oudtshoorn-polisie het bevestig dat ‘n klag van strafbare manslag ondersoek word.

[Oudtshoorn Courant]

Posted on by jonckie

Comments Off on Drie mans sterf toe voertuig rol buite Oudtshoorn

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :